NOOITGEDACHT HORSE BREEDERS’ SOCIETY
Constitution
NOOITGEDACHT PERDETELERSGENOOTSKAP
NOOITGEDACHT HORSE BREEDERS’ SOCIETY
GRONDWET
Wysigings goedgekeur met die AJV van 2023
INHOUD
KLOUSULES VAN DIE GRONDWET 1. Naam van die Genootskap …………………………………………………………………………………………….2. Woordomskrywing …………………………………………………………………………………………….3. Doelstellings …………………………………………………………………………………………….4. Magte van die Genootskap …………………………………………………………………………………………….5. Lidmaatskap …………………………………………………………………………………………….6. Ledegelde en gelde …………………………………………………………………………………………….7. Bedanking en skorsing van lede …………………………………………………………………………………………….8. Die beheer van lede …………………………………………………………………………………………….9. Die Raad …………………………………………………………………………………………….10. Magte en pligte van die Raad …………………………………………………………………………………………….11. Die Uitvoerende Komitee …………………………………………………………………………………………….12. Vergaderings …………………………………………………………………………………………….13. Kworum …………………………………………………………………………………………….14. Finansiële bepalings …………………………………………………………………………………………….15. Klubs …………………………………………………………………………………………….16. Ontbinding van die Genootskap …………………………………………………………………………………………….17. SA Stamboek- en Diereverbeteringsvereniging …………………………………………………………………………………………….18. Grondwetwysigings …………………………………………………………………………………………….19. Herroeping van vorige Grondwette en Algemene Verordeninge …………………………………………………………………………………………….20. Kantoor van die Genootskap …………………………………………………………………………………………….21. Skadeloosstelling …………………………………………………………………………………………….22. Outentieke lesing van die Grondwet …………………………………………………………………………………………….23. Naam en inwerkingtreding ……………………………………………………………………………………………. ALGEMENE VERORDERINGE 1. Registrasie …………………………………………………………………………………………….2. Identifikasie …………………………………………………………………………………………….3. Stamboek …………………………………………………………………………………………….4. Oorskakeling van voorheen aangetekende en geregistreerde perde …………………………………………………………………………………………….5. Dekking- en insemineringsertifikate …………………………………………………………………………………………….6. Veranderings of byvoegings op sertifikate …………………………………………………………………………………………….7. Duplikaat sertifikaat …………………………………………………………………………………………….8. Sertifikaat in uitgebreide stamboom …………………………………………………………………………………………….9. Uitvoer van Perde en genetiese materiaal …………………………………………………………………………………………….10. Oordragte …………………………………………………………………………………………….11. Reëls m.b.t. die toepassing van kunsmatige inseminering …………………………………………………………………………………………….12. Reëls m.b.t. embrio-oorplasings …………………………………………………………………………………………….13. Gesamentlike eienaars van hingste en merries …………………………………………………………………………………………….14. Dragtigheidsperiode …………………………………………………………………………………………….15. Kennisgewing van Geboortes …………………………………………………………………………………………….16. Bevestiging van Ouerskap …………………………………………………………………………………………….17. Keuring en pligte van keurders …………………………………………………………………………………………….18. Oordrag van bevoegdhede ……………………………………………………………………………………………. | BLADSY 3 3 4 4 5 7 8 9 9 10 12 13 14 15 15 15 15 16 16 16 16 16 16 17 19 20 22 22 22 22 23 23 23 24 25 25 26 26 27 27 29 |
BYLAES TOT DIE KLOUSULES VAN DIE GRONDWET EN DIE ALGEMENE VERORDENINGE
Bylaes tot die Klousules van die Grondwet en die Algemene Verordeninge bestaan uit die volgende:
Bylae A Genootskapsgelde ………………………………………………………. 30
Bylae B Standaard van Voortreflikheid (keuringsvorm ingesluit) ……. 31
Bylae C Geboortekennisgewingvorm …………………………………………. 33
Bylae D Handleiding vir keurders by die keuring van perde ………….. 34
NOOITGEDACHT PERDETELERSGENOOTSKAP
GRONDWET
- NAAM VAN DIE GENOOTSKAP
Die naam van die Genootskap is die:
NOOITGEDACHT PERDETELERSGENOOTSKAP
en in hierdie Grondwet het alle woorde waaraan ‘n bepaalde betekenis geheg word, dieselfde betekenis as in die Wet op Diereverbetering, 1998 (Wet nr. 62 van 1998), insluitende die Regulasies kragtens die Wet uitgevaardig.
2. WOORDOMSKRYWING
Wanneer dit in hierdie Grondwet gebruik word en ‘n strydige mening nie duidelik uit die verband blyk nie, beteken –
(a) “aantekening” – die prosedure van inskrywing van Nooitgedachtperde in die Basiese Register;
(b) “Departement” – die Departement van Landbou in die nasionale regering;
(c) “eienaar” – van ‘n perd, die persoon
(i) op wie se naam die perd in die Stamboek ingeskryf is; of
(ii) wat tot bevrediging van die Raad bewys lewer dat die perd geskik is om so in sy naam ingeskryf te word;
(d) “Genootskap” – die Nooitgedacht Perdetelersgenootskap;
(e) “Geïntegreerde registrasie en genetiese inligtingstelsel (Intergis) – die rekenaarstelsel wat ingestel is in samewerking met die Departement, om stambome en prestasie-data van diere te integreer;
(f) “Grondwet” – die Grondwet (met inbegrip van die Verordeninge) van die Genootskap;
(g) “kurator” – die eienaar of persoon wat direkte toegang tot, of toesig oor die betrokke perd het;
(h) “Landras” – ‘n bepaalde ras van ‘n soort dier wat inheems is aan of ontwikkel is in die Republiek;
(i) “Minister” – die Minister belas met die uitvoering van die Wet;
(j) “nageslag” – die direkte nakomeling(e) van twee perde;
(k) “Nooitgedachtperd” – ‘n perd wat in die Nooitgedachtstamboek geregistreer is;
(l) “Raad” – die Raad van die Nooitgedacht Perdetelersgenootskap;
(m) “Registrateur” – die beampte aangewys as die Registrateur van Diereverbetering ingevolge die Wet;
(n) “registreer” – die prosedure van inskrywing van Nooitgedachtperde in die Volgeregistreerde afdeling van die Stamboek en die Hulpstamboek;
(o) “Republiek” – die Republiek van Suid-Afrika;
(p) “Sekretaris” – die Sekretariaat van die Genootskap wat alle vergaderings van die Genootskap bywoon en die verteenwoordiger wat die reg het om aan die besprekings deel te neem.
(q) “Stamboek” – die Stamboek van die Genootskap waarin die besonderhede van geregistreerde Nooitgedachtperde ingeskryf word;
(r) “Suid-Afrikaans geteelde dier” – ‘n dier wat in die Republiek gebore is;
(s) “teler” – van ‘n perd, die geregistreerde eienaar van die moeder ten tyde van die geboorte van die perd;
(t) “Vereniging” – die Suid-Afrikaanse Stamboek- en Diereverbeteringsvereniging;
(u) “Vergadering” – ‘n gesprek wat gehou word terwyl lede fisies teenwoordig is, en/of d.m.v die gebruik van elektroniese hulpmiddels (insluitend maar nie beperk tot telefoon-, video- en Skypekonferensies;
(v) “Wet” – die Wet op Diereverbetering, 1998 (Wet nr. 62 van 1998).
2.1 Ander woorde, afkortings en terme gebruik in die Grondwet, wat nie hierbo omskryf is nie, en waaraan ‘n bepaalde betekenis geheg word in toepaslike wetgewing sal dieselfde beteken as in daardie betrokke toepaslike wetgewing.
2.2 Tensy ‘n teenstrydige mening duidelik uit die verband blyk, sal alle woorde wat in die Grondwet na persone in die manlike geslag verwys die vroulike geslag insluit en woorde in die enkelvoud sal die meervoud insluit en woorde in die meervoud sal die enkelvoud insluit.
3. DOELSTELLINGS
3.1 Om die teel en verbetering van rasegte Nooitgedachtperde aan te moedig in die Republiek.
3.2 Om die suiwerheid van die Nooitgedachtperd in die Republiek te bewaar, en om deur alle moontlike en beskikbare middele belangstelling in die ras te bevorder.
3.3 Om die stambome en besonderhede van rasegte en hulpstamboek Nooitgedachtperde saam te stel, noukeurig aan te teken, te bewaar en instand te hou vir die doel van inskrywing in die Stamboek.
3.4 Om noukeurige rekords van Nooitgedacht sportperde en ander Iberiese kruisperde by te hou.
3.5 Om ‘n “Standaard van Voortreflikheid” vir die ras te skep en na te kom.
3.6 Om vir tentoonstellingsdoeleindes verskillende klasse van geregistreerde Nooitgedachtperde te verkry en om landbougenootskappe en ander te oortuig van die wenslikheid en noodsaaklikheid daarvan om slegs beoordeelaars aan te stel wat deur die Genootskap aanbeveel word.
3.7 Om die verkoop van Nooitgedachtperde wat geregistreer is of vir registrasie in aanmerking kom, te bevorder.
3.8 Om opleiding vir beamptes en lede te koördineer.
3.9 Om sover moontlik jaarliks ‘n Nasionale Kampioenskapskou aan te bied.
3.10 Die Genootskap –
(a) mag nie gemoeid wees met enige winsgewende bedrywighede; of deel hê in enige besigheids-, of professionele- of beroepsbedrywighede van enige van sy lede, of die voorsiening aan enige van sy lede van geldelike hulp of van enige perseel of aanhoudende dienste of fasiliteite wat deur sy lede benodig word vir die beoefening van ‘n besigheid, professie of beroep nie; en
(b) het nie die mag om besigheid te bedryf nie, insluitend gewone handelstransaksies in die loop van besigheid, spekulatiewe transaksies, dividend verminderingsaksies, sowel as die aankoop van eiendom vir die verhuring daarvan op ‘n stelselmatige of gereelde basis.
4. MAGTE VAN DIE GENOOTSKAP
4.1 Onderhewig aan die bepalinge van die Grondwet, het die Genootskap die reg om roerende goedere of vaste eiendom te verkry deur dit aan te koop, te huur of andersins te bekom, dit te besit, te behou of te betrek en om sodanige eiendom te vervreem, te verpand, verband daarop te neem, of dit te belas; om geld te leen; om enige fondse van die Genootskap te belê, of sodanige belegging of lenings van tyd tot tyd op te vra of te verander of in die algemeen ooreenkomstig die bepalinge van die Wet, sodanige handelinge uit te voer soos ‘n liggaam met regspersoon mag doen en wat nodig geag word met betrekking tot belange van die Genootskap en die bereiking van sy doelstellings.
4.2 Om sodanige funksies te vervul en pligte uit te voer soos aan die Genootskap opgelê is deur die Wet en as gevolg van sy lidmaatskap van die Vereniging.
5. LIDMAATSKAP
5.1 Daar is die volgende lede:
(a) TELERSLEDE
Alle persone bo die ouderdom van agtien (18) jaar wat direk of indirek gemoeid is met die teel van Nooitgedachtperde in die Republiek kan in aanmerking kom vir lidmaatskap van die Genootskap as Telerslede. Vir die doeleindes van hierdie subklousule word ‘n maatskappy, vennootskap of regspersoon wat volgens die voorwaardes in Klousule 5.4 uiteengesit handel dryf, beskou as ‘n persoon en kan in aanmerking kom vir Telerslidmaatskap van die Genootskap. Telersledegelde is betaalbaar soos van tyd tot tyd deur die Algemene Vergadering bekragtig (Bylae A).
(b) LEWENSLEDE
Enige Telerslid mag met die goedkeuring van die Raad ‘n Lewenslid word deur die betaling van sodanige bedrag of ledegeld as wat deur ‘n Algemene Vergadering bekragtig is (Bylae A).
(c) LEWENSERELID
Vir spesiale dienste gelewer in belang van die ras mag die Algemene Jaarvergadering ‘n persoon tot Lewenserelid verkies, op voorwaarde dat dit op aanbeveling van die Raad geskied. Sodanige Lewenserelid sal al die regte en voorregte van lidmaatskap geniet, insluitende stemreg by enige vergadering van die Genootskap en sal ook tot die Raad verkiesbaar wees.
(d) SPESIALE ERELID
Persone wat nie noodwendig gemoeid is met die teel van Nooitgedachtperde nie, mag deur die Raad verkies word tot Spesiale Erelid op sodanige voorwaardes soos deur die Raad bepaal word. Spesiale Erelede sal geen stemreg by vergaderings van die Genootskap hê nie, en ook nie tot die Raad verkiesbaar wees nie.
(e) JUNIOR LEDE
Persone onder die ouderdom van agtien (18) jaar mag Junior lede word. Sodanige Junior lede sal geen stemreg by vergaderings hê nie en nie tot die Raad verkiesbaar wees nie. Na die betaling van die vasgestelde gelde soos deur ‘n Algemene Vergadering bekragtig,(Bylae A) mag hulle aan alle ander aktiwiteite van die Genootskap deelneem.
(f) NIE-TELERSLEDE
Persone wat geregistreerde Nooitgedachtperde besit maar nie Telerslede of Junior lede van die Genootskap is nie, mag Nie-telerslede van die Genootskap word na ‘n aansoek om Nie-telerslidmaatskap en betaling van die gelde soos van tyd tot tyd deur die Raad voorgestel en op ‘n Algemene Vergadering bekragtig is (Bylae A).
Sodanige Nie-telerslede mag aan skoue en ander aktiwiteite van die Genootskap deelneem en het dieselfde regte as Telerslede soos in Klousule 5.3 bepaal met uitsondering van Klousule 5.3.2(b) en die stemregbepaling in Klousule 5.3.2(c). Nie-telerslede mag uitgenooi word na byeenkomste en vergaderings van die Genootskap.
(g) BUITELANDSE TELERS
Enige persoon, met inbegrip van ‘n maatskappy, vennootskap of regspersoon, wat nie ooreenkomstig Klousule 5.1(a) vir Telerslidmaatskap in aanmerking kom nie en wat direk of indirek gemoeid is met die teel van Nooitgedachtperde buite die Republiek, kan in aanmerking kom vir registrasie as Buitelandse Teler van die Genootskap na betaling van die betrokke gelde soos deur die Raad voorgestel en op ‘n Algemene Vergadering bekragtig, (Bylae A).
5.2 AANSOEK OM LIDMAATSKAP
5.2.1 Aansoek om lidmaatskap van die Genootskap as Telerslid, Lewenslid, Junior lid of Nie-telerslid moet skriftelik aan die Sekretaris gerig word, en moet sodanige vorm aanneem soos die Raad voorskryf. Die aansoek moet ook vergesel wees van die betrokke subskripsie- en/of intreegeld soos van tyd tot tyd deur ‘n Algemene Vergadering bekragtig is, (Bylae A).
5.2.2 Die Uitvoerende Komitee mag die aansoek om lidmaatskap van enige persoon aanvaar, hetsy onvoorwaardelik of op sodanige voorwaardes as wat die Raad bepaal, of enige aansoek weier en die redes vir sodanige weiering te verstrek.
5.2.3 ‘n Persoon wie se aansoek om lidmaatskap geweier is, sal geregtig wees op die terugbetaling van enige gelde wat sy aansoek vergesel het.
5.3 REGTE EN VOORREGTE VAN LEDE
5.3.1 Die regte en voorregte van elke lid van die Genootskap is op hom as persoon van toepassing, en is nie oordraagbaar of oorerflik nie, hetsy deur sy eie handeling of wetsbepaling.
5.3.2 Die regte en voorregte van Telerslede en Lewenserelede sal die volgende insluit:-
(a) Om alle verslae en publikasies te ontvang wat deur die Genootskap vir verspreiding onder die lede uitgegee word;
(b) om aansoek te doen vir registrasie van Nooitgedachtperde in ooreenstemming met die reëls van die Genootskap;
(c) om alle algemene sowel as buitengewone vergaderings van die Genootskap by te woon of deur middel van moderne kommunikasietegnologie by sodanige vergadering in te skakel en op sodanige vergaderings te stem;
(d) om, indien beskikbaar, alle deskundige tegniese advies met betrekking tot aangeleenthede rakende Nooitgedachtperde van die Genootskap se keurders en amptenare te ontvang. Alle kostes wat hieraan verbonde mag wees, moet deur die aansoeker betaal word; en
(e) om die Genootskap se amptelike verslae te raadpleeg en te gebruik;
(f) om verkies te word tot die Raad van die Genootskap.
5.3.3 Dieselfde regte en voorregte van Telerslede is op ander lede van die Genootskap van toepassing met uitsondering van Klousule 5.3.2(b) en stemreg op vergaderings soos in Klousule 5.3.2(c) vervat.
5.4 MAATSKAPPY, VENNOOTSKAP OF REGSPERSOON
5.4.1 ‘n Maatskappy, vennootskap of regspersoon wat om Telerslidmaatskap aansoek doen, moet aan die Genootskap sodanige feite en gegewens voorlê as wat nodig is om die aard van die beherende aandeel daarin te bepaal, en moet dan of te eniger tyd daarna, benewens die vereiste gegewens wat van alle aansoekers verlang word, die Genootskap verder in kennis stel van die naam en adres van die persoon wat aangestel is om as sy verteenwoordiger by vergaderings van die Genootskap op te tree; op die verdere voorwaarde dat sodanige persoon die reg sal hê om skriftelik ‘n plaasvervanger te benoem. Sodanige skriftelike benoeming moet die Sekretaris nie later as voor die aanvang van die vergadering waarop sodanige plaasvervanger moet stem, bereik nie.
5.4.2 Alle stukke wat aan die gevolgmagtigde verteenwoordiger, soos in Klousule 5.4.1 uiteengesit is, gerig is, word beskou as behoorlik op die maatskappy, vennootskap of regspersoon bestel te wees, en by alle vergaderings wat deur die sodanige gevolmagtigde verteenwoordiger, namens die maatskappy, vennootskap of regspersoon beskou as behoorlik verteenwoordig te wees.
5.4.3 Die hoofpersoon wat op so ‘n manier aangewys is om sodanige maatskappy, vennootskap of regspersoon te verteenwoordig, mag tot die Raad verkies word.
5.4.4 Indien so ‘n maatskappy, vennootskap of regspersoon in gebreke bly om aan die vereistes van Telers- of Lewenslidmaatskap te voldoen soos in Klousules 5.1(a) en (b) genoem, sal sy lidmaatskap van die Genootskap beëindig word en sal die volgende Klousule 5.4.5 mutatis mutandis ten opsigte van so ‘n maatskappy, vennootskap of regspersoon van toepassing wees.
5.4.5 In die geval van die likwidasie van ‘n maatskappy, of die ontbinding van ‘n vennootskap of regspersoon, sal die lidmaatskap van die Genootskap outomaties ten einde loop, met dien verstande dat –
(a) alle gelde of bedrae wat aan die Genootskap verskuldig op die datum van likwidasie of ontbinding van die Genootskap ingevorder sal word van die likwidateur van sodanige maatskappy, of van die lede (hetsy gesamentlik of afsonderlik), van sodanige vennootskap of regspersoon;
(b) die likwidateur van sodanige maatskappy en die lede van die sodanige vennootskap of regspersoon verplig sal wees om alle verpligtinge van so ‘n maatskappy, vennootskap of regspersoon na te kom; en
(c) enige gelde wat betaalbaar mag wees, soos ledegeld, registrasies, oordragte of ander verpligtinge, wat na so ‘n outomatiese beëindiging van lidmaatskap nagekom moet word, sal ooreenkomstig die skaal vir Telers- of Lewenslede opgelê word.
6. LEDEGELDE EN GELDE
6.1 Alle intekengelde of enige ander gelde en kommissies aan die Genootskap betaalbaar, word van tyd tot tyd deur die Raad voorgestel en word op die eerste daaropvolgende Algemene Vergadering van die Genootskap bekragtig deur ‘n meerderheidstem (Bylae A).
6.2 Die jaarlikse ledegelde is vooruitbetaalbaar op 1 Januarie van elke jaar, en sal as agterstallig beskou word as dit nog nie op 1 April van dieselfde jaar betaal is nie.
6.3 Enige lid wie se ledegeld agterstallig is of wat geld aan die Genootskap skuld ten opsigte van enige gelde of verpligtinge, vir meer as dertig (30) dae nadat ‘n eis om betaling daarvan deur die Sekretaris aan hom gerig is, sal verder geen regte of voorregte van lidmaatskap geniet voordat sodanige skulde aangesuiwer is nie.
6.4 Die Raad mag opdrag gee dat rente gehef word op alle agterstallige rekenings, teen ‘n rentekoers soos van tyd tot tyd deur die Raad vasgestel sal word. Verder het die Raad die mag, ongeag die bepalings van Klousule 7, om ‘n lid se lidmaatskap te kanselleer indien hy na die versoek per geregistreerde pos, om betaling van ledegeld, na dertig (30) dae steeds in gebreke bly om die verskuldigde bedrag te vereffen.
6.5 Enige lid, wat om watter rede ookal, ophou om lid van die Genootskap te wees, sal aanspreeklik bly vir alle bedrae wat ten tyde van die beëindiging van sy lidmaatskap deur hom aan die Genootskap verskuldig was.
6.6 Indien die Raad sou beslis dat die rekening van ‘n lid agterstallig is of ten tyde van die beëindiging van sy lidmaatskap uitstaande is, sal so ‘n lid, indien sy rekening om insameling aan ‘n firma van prokureurs of skuldinvorderaars oorhandig word, verantwoordelik gehou word vir die betaling van alle regskoste, invorderingsgelde, prokureurs- en kliëntekoste wat dit mag meebring, saam met die oorspronklike bedrag, boetes en eise wat deur hom aan die Genootskap verkuldig is.
7. BEDANKING EN SKORSING VAN LEDE
7.1 Enige persoon kan as lid van die Genootskap bedank deur nie minder nie as een maand voor die tyd skriftelik kennis aan die Sekretaris te gee, met dien verstande dat sodanige uittrede nie in werking sal tree voor 31 Desember van die jaar waarin die bedanking ingedien is nie en nie voordat alle gelde aan die Genootskap verskuldig, ten volle betaal is nie en ook nie voordat sodanige lid sy verpligtinge nagekom het ten opsigte van registrasies en oordragte, of enige ander verpligtinge ten opsigte van sy lidmaatskap nie.
7.2 Die Raad mag, mits ‘n besluit tot dien effekte goedgekeur is deur nie minder nie as twee-derdes van die Raadslede wat op ‘n Raadsvergadering teenwoordig en stemgeregtig is, enige lid skors wat –
(a) in gebreke gebly het om enige bedrag wat deur hom aan die Genootskap verskuldig is te betaal binne dertig (30) dae nadat ‘n skriftelike eis vir sodanige vereffening deur die Sekretaris onderteken, aan hom gepos is;
(b) die Grondwet of enige reël van die Genootskap oortree het of wat na oordeel van die Raad, op enige wyse oneerbaar of afbrekend tot die karakter, of ten nadele van die belange van die Genootskap opgetree het;
(c) deur sy optrede of gebrek daaraan, werklike of moontlike oneer aan die Genootskap gebring het, of wat skuldig was aan gedrag ten werklike of moontlike nadele van die doelstellings van die Genootskap;
(d) met opset of vir persoonlike gewin of voordeel, foutiewe inligting aan die Genootskap of enige van sy amptenare verstrek het, of aan beamptes of beoordeelaars by skoue, of wat aan die liggaam van ‘n perd sodanige veranderings aangebring het om enige persoon te mislei; of
(e) skuldig bevind is op grond van ‘n oortreding van die Wet en Regulasies uitgevaardig ingevolge die Wet.
MET DIEN VERSTANDE DAT geen stappe geneem sal word teen ‘n lid van die Genootskap nie alvorens die Sekretaris minstens dertig (30) dae voor die datum van die Raadsvergadering, waarop sodanige skorsing behandel sal word, ‘n aangetekende brief aan so ‘n lid gerig het waarin hy in kennis gestel word van sy voorgestelde skorsing, en waarin daar ‘n beroep op hom gedoen word om persoonlik, of indien hy so verkies sy behoorlik gemagtigde verteenwoordiger, sy kant van die saak op die Raadsvergadering te stel.
7.3 Enige lid wat geskors is, moet deur die Sekretaris skriftelik daarvan in kennis gestel word binne tien (10) dae na die datum waarop die besluit met betrekking tot sy uitsetting goedgekeur is. Hierdie klousule is nie van toepassing op skorsings ingevolge Klousule 6.4 nie. Vir doeleindes van hierdie sub-klousule sal dit geag word dat kennis gegee was op die datum waarop ‘n brief per geregistreerde pos, en/of ‘n epos en/of ‘n faks aan die lid gestuur is, onder voorwaarde dat bewys beskikbaar is dat die faks gestuur is en, in geval van epos, ‘n versendingsbewys beskikbaar is.
7.4 Na sodanige skorsing van ‘n lid, sal hy nie langer lid van die Genootskap wees nie. Sy naam sal uit die Stamboek of enige ander registers of verslae van die Genootskap verwyder word en die Raad mag na eie mening aan die Sekretaris verder opdrag gee om by die Vereniging aansoek te doen om kansellasie van alle registrasies ten opsigte van diere wat deur die geskorste lid geteel is, of ten tyde van sy skorsing in sy besit was. Na sodanige datum sal geen oordrag van perde van die geskorste lid deur homself geteel, geregistreer word nie; geen geboortekennisgewings sal van hom aanvaar word nie en hy sal dienooreenkomstig in kennis gestel word.
7.5 Enige persoon wat as lid van die Genootskap geskors is, bly aanspreeklik vir alle subskripsies en gelde deur hom verskuldig aan die Genootskap ten tyde van sy skorsing en hy moet alle verpligtings nakom wat hy as lid sou moes nakom ten opsigte van registrasies, oordragte of enige ander verpligtings met betrekking tot sodanige lidmaatskap.
7.6 Enige persoon teen wie dissiplinêre stappe geneem is en wat skuldig bevind is aan gedrag teenstrydig met of oortreding van die Grondwet, Algemene Regulasies en Reëls van die Genootskap mag skriftelik appèl ten die skuldigbevinding en/or straf wat opgelê is aanteken deur middel van epos en/of faks aan die Sekretaris binne 20 dae vanaf die datum van sy skuldigbevinding en/of strafoplegging.
7.7 Die Sekretaris sal, binne 30 dae vanaf die datum van ontvangs van die kennisgewing soos in sub-klousule 7.6, die betrokke persoon van die datum, tyd en kostes van die appèl in kennis stel, en ook die name van die persone wat die appèl sal aanhoor bekend maak per geregistreerde pos en/of epos en/of faks.
7.8 ‘n Appèl in terme van hierdie Grondwet sal aangehoor word deur ‘n Appèlkomitee wat uit drie kundige persone wat nie Raadslede is nie, bestaan, aangewys deur die Raad. Afhangend van die aard van die appèl kan die voorsitter ‘n prokureur of advokaat wees. Alle kostes verbonde aan die reis, verblyf en dienslewering van hierdie Appèlkomitee sal vir die rekening van die persoon wat appèl aangeteken het, wees.
7.9 Indien die persoon wat aangedui het dat hy gaan appelleer nie self in persoon opdaag of deur ‘n behoorlik aangestelde verteenwoordiger in persoon verteenwoordig word nie, sal die appèl outomaties verval en sal die vorige bevinding van krag word. Die persoon wat aangedui het dat hy gaan appelleer bly steeds aanspreeklik vir die kostes.
7.10 Enige persoon wat, om watter rede ookal, opgehou het om lid van die Genootskap te wees, mag daarna weer vir lidmaatskap in aanmerking kom ooreenkomstig die bepalinge van Klousule 5.2.
7.11 Die Raad het die bevoegdheid om ’n boete aan ’n lid op te lê waar hy van mening is dat ’n oortreding van die Grondwet en/of Verordening deur ’n lid nie van so ’n ernstige aard is dat dit skorsing regverdig nie.
8. DIE BEHEER VAN LEDE
8.1 Die Sekretaris hou ‘n register van alle lede. Hierin word die volgende gegewens aangeteken: die datum van toelating van lidmaatskap van elke lid, sy posadres, die bedrae wat van hom ontvang is asook die datums van betaling van alle gelde.
8.2 Elke lid moet die Sekretaris skriftelik van ‘n verandering van sy posadres in kennis stel, en alle kennisgewings en publikasies wat aan ‘n lid se aangetekende adres gestuur is, sal beskou word as behoorlik op sodanige lid bestel te wees.
8.3 Alle stukke wat deur aangetekende pos deur die Sekretaris aan lede versend is, sal as bindend beskou word.
9. DIE RAAD
9.1 VERKIESING VAN DIE RAAD
9.1.1 Die belange van die Genootskap word beheer en bestuur deur ‘n Raad wat tydens ‘n Algemene Jaarvergadering wat vir dié doel belê is, per geslote stembriefies verkies word.
9.1.2 Die Raad sal bestaan uit ses lede, naamlik die President, Vise-president en vier addisionele raadslede.
9.1.3 Die President en Vise-president beklee hulle amp vir twee (2) jaar en is herkiesbaar vir ‘n tweede termyn waarna hulle nie weer tot dieselfde amp herkies mag word voordat ‘n periode van twee (2) jaar verstryk het nie. Die President is na ‘n termyn van vier (4) jaar net tot addissionele lid op die Raad herkiesbaar.
9.1.4 Addisionele lede van die Raad wat ingevolge Klousule 9.1.1 verkies is, beklee hulle ampte vir ‘n tydperk van twee (2) jaar en is by verstryking van die twee (2) jaar weer herkiesbaar.
9.1.5 Lede van die Raad wat van twee agtereenvolgende Raadsvergaderings sonder toestemming of grondige rede afwesig is, sal hul amp verbeur.
9.1.6 In die geval waar die pos van President of Vise-president vakant raak voor die verstryking van die tydperk waarvoor hy tot die Raad verkies is, mag die Raad op sy eersvolgende vergadering per stembriefies of op sodanige wyse as wat die vergadering besluit, een uit sy geledere verkies om die vakature vir die onverstreke termyn te vul.
9.1.7 Indien ‘n lid van die Raad te sterwe kom, bedank of sy reg verbeur om op die Raad te dien, of ooreenkomstig Klousule 9.1.6 benoem word om die amp van President of Vise-president te vul, kan die Raad sodanige vakature vul uit die geledere van die Genootskap tot die volgende verkiesing van die lede van die Raad. Die Raad sal as behoorlik gekonstitueer beskou word en sal voortgaan om al die magte wat aan hom opgedra is uit te voer nieteenstaande enige vakatures wat daarin mag ontstaan.
9.2 ANDER PERSONE WAT OP DIE RAAD DIEN
Benewens die ses verkose lede van die Raad sal daar ook die volgende lede wees wat op die Raad dien in ‘n adviserende hoedanigheid maar sonder stemreg.
9.2.1 ERE LEWENS-VISE-PRESIDENT
Vir uitsonderlike dienste aan die ras mag persone op aanbeveling van die Raad by ‘n Algemene Jaarvergadering verkies word tot Ere Lewens-vise-presidente met dien verstande dat sodanige aanbeveling deur ten minste driekwart van die lede op die vergadering gesteun word.
9.2.2 DIE SEKRETARIS – Slegs indien die Sekretariaat nie deur ‘n Raadslid hanteer word nie.
9.2.3 DIE GENOOTSKAP SE TEGNIESE ADVISEUR – Indien nodig op ‘n ad hoc basis.
9.2.4 Enige ander persoon of persone soos deur die Raad besluit.
10. MAGTE EN PLIGTE VAN DIE RAAD
Die Raad het, onderworpe aan die bepalinge van die Grondwet en die besluite van die Genootskap soos van tyd tot tyd geneem word, die mag om sodanig op te tree as wat in belang van die Genootskap is, of vir die bevordering en volvoering van sy doelstellings nodig of wenslik geag mag word.
In die besonder het die Raad die mag om –
10.1 algemene of spesiale algemene vergaderings van die Genootskap te belê, of na aanleiding van ‘n spesiale versoek daartoe, wat volgens die bepaling van die Grondwet gerig is, of andersins indien dit noodsaaklik geag word;
10.2 na goeddunke, sodanige prokureurs of ander regsverteenwoordigers, agente, ampsdraers of amptenare of ander werknemers permanent, tydelik of met die oog op spesiale dienste aan te stel, te ontslaan of te skors; om hulle magte en pligte te bepaal; hulle vergoeding en diensvoorwaardes vas te stel; en om sodanige voorsorg te tref vir die behoorlike uitvoering van hulle pligte, as wat in besondere gevalle raadsaam geag mag word;
10.3 ‘n geding in te stel, te voer, te laat voer, te verdedig, of ‘n skikking aan te gaan ten opsigte van enige geregtelike stappe deur of teen die Genootskap of teen enige van sy ampsdraers of amptenare of die voldoening van enige eis of aanskrywing deur of teen die Genootskap;
10.4 die dienste van enige lid van die Genootskap te koöpteer en om subkomitees te benoem op sodanige voorwaardes en sodanige magte aan hulle te verleen as wat van tyd tot tyd wenslik geag word;
10.5 sodanige reëls en voorwaardes op te stel met betrekking tot die kwalifikasies en benoeming van beoordelaars van Nooitgedachtperde as wat nodig geag word, met dien verstande dat geen persoon as beoordelaar by skoue van Nooitgedachtperde aangestel sal word alvorens hy voldoen aan sodanige vereistes as wat deur die Raad bepaal word nie. Om van tyd tot tyd die paneel van beoordelaars in heroorweging te neem en daaruit sodanige name te verwyder as wat nodig geag word;
10.6 sodanige strawwe op te lê of af te dwing as wat van tyd tot tyd vir lede van die Genootskap voorgekryf word vir die oortreding of skending van die Grondwet, reëls en regulasies van die Genootskap;
10.6.1 Skorsing van die lid, en/of;
10.6.2 Oplê van ‘n boete van hoogstens R 20 000-00, en/of;
10.6.3 Die skrap van die lid van die keurderslys, en/of;
10.6.4 Die skrap van die lid van die beoordelaarspaneel, en/of
10.6.5 Die oplê van enige van bostaande, opgeskort vir ‘n periode van hoogstens 5 jaar.
10.7 onderhewig aan die bepalinge van Klousule 6.1, wysigings van ledegelde of verpligtinge van tyd tot tyd voor te stel en om enige bykomende gelde of verpligtinge wat nodig geag word aan die Algemene Jaarvergadering of spesiale algemene vergadering van die Genootskap voor te lê vir bekragtiging;
10.8 een of meer bankrekenings namens die Genootskap te open, en enige wissel, skuldbewys, tjek of ander verhandelbare dokument wat op die sake van die Genootskap betrekking het, te trek, te aksepteer, te endosseer, aan te gaan of uit te voer;
10.9 geboue, grond, goedere, roerende bates en besittings te koop, te huur, op verband te neem of vir die Genootskap aan te skaf; om roerende goedere en vaste eiendom van die Genootskap te verkoop, verpand, te verhuur of te vervreem of andersins daarvan ontslae te raak, en die vergoeding daaruit verkry op so ‘n wyse aan te aan te wend as wat tot die grootste voordeel van die Genootskap gereken word; met inagneming van Klousules 3.10 en 4;
10.10 enige gelde wat nie vir die onmiddellike behoeftes van die Genootskap nodig is nie te belê of op enige ander wyse te behartig teen sodanige sekuriteite, en op sodanige voorwaardes as wat die Raad goedvind en van tyd tot tyd enige sodanige beleggings te verander of te onttrek: Met dien verstande dat fondse beskikbaar vir belegging slegs belê mag word by geregistreerde finansiële instellings soos omskryf in artikel 1 van die Wet op Finansiële Instellings (Belegging van Fondse), 1984, en in effekte genoteer op ‘n gelisensieerde effektebeurs soos omskryf in artikel 1 van die Wet op Beheer van Effektebeurse, 1985 (Wet No.1 van 1985);
10.11 ondersoek in te stel na geskille wat uit die toepassing van die Grondwet ontstaan en uitsluitsel daaroor te gee;
10.12 al die koste en rekenings met betrekking tot die administrasie en bestuur van die Genootskap te betaal;
10.13 gelde, donasies en ander skulde en fondse in te samel en te ontvang en dit tot voordeel van die Genootskap en tot bevordering van die Nooitgedachtperderas aan te wend;
10.14 verkope van Nooitgedachtperde te organiseer en te bevorder, hetsy deur openbare veilings of uit die hand en om vir hierdie doel afslaers en agente aan te stel;
10.15 een of meer lede of amptenare aan te stel met die gesag om namens die Genootskap dokumente te onderteken, stukke en gegewens te ontvang, geregtelike stappe te doen, op te tree, ‘n eis in te stel, of gedagvaar te word, sodat die sake van die Genootskap beter en gemakliker uitgevoer en afgehandel kan word;
10.16 reëls en regulasies met betrekking tot die beheer van sake en die uitvoer van die doelstellings van die Genootskap op te stel, te wysig of op te hef;
10.17 om aan ‘n algemene vergadering van die Genootskap veranderings of wysigings van enige bylae wat by die Grondwet aangeheg is, voor te stel vir bekragtiging;
10.18 op sekuriteit van enige eiendom van die Genootskap geld vir die Genootskap te leen;
10.19 ooreenkomstig Klousule 7 die lidmaatskap van enige persoon te beëindig;
10.20 ooreenkomstig Klousule 6.3 te weier om keurings, aantekening of registrasie en ander werk vir die lede te doen indien hulle rekening agterstallig is;
10.21 in die algemeen alles wat nodig is te doen met die oog op die welvaart van die Genootskap en die hantering van sy sake, altyd op voorwaarde dat enige stappe wat gedoen word of opdragte wat gegee word, nie met die bepalinge van die Grondwet sal bots nie;
10.22 die vergadering van beamptes van die Genootskap te bepaal.
11. DIE UITVOERENDE KOMITEE
Die Uitvoerende Komitee sal bestaan uit die President, Vise-president en een ander Raadslid.
11.1 MAGTE EN PLIGTE VAN DIE UITVOERENDE KOMITEE
11.1.1 Om op aanbeveling van die Keuringskomitee keurders aan te stel en enige ander werksaamhede te verrig waarvoor die lede van die Genootskap die dienste van keurders mag verlang en om sodanige keurders opdragte te gee en magte te verleen met betrekking tot hulle pligte om te verseker dat die doelstellings van die Genootskap uitgevoer word, of om hulle te ontslaan.
11.1.2 Opdrag te gee aan keurders van die Genootskap om ondersoek in te stel na gevalle waar daar nie behoorlik rekord gehou word nie, of waar daar twyfel mag ontstaan met betrekking tot die identiteit van ‘n perd of perde en om sodanige stappe te neem soos in die belang van die Genootskap wenslik geag word.
11.1.3 Om aan enige lid van die Raad of enige amptenaar of werknemer van die Genootskap verlof tot afwesigheid toe te staan vir enige tydperk en op sodanige voorwaardes as wat in elke geval bepaal mag word.
11.1.4 Om aansoeke om lidmaatskap te ontvang en te oorweeg en dit na eie oordeel te aanvaar of af te wys. Die Uitvoerende Komitee het die reg om hierdie bevoegdheid aan ‘n beampte van die Genootskap te delegeer. Gevalle waaroor daar twyfel bestaan moet na die Uitvoerende Komitee verwys word.
11.1.5 Om spesiale keurings soos deur lede aangevra, goed of af te keur in oorleg met keurderskomittee besluite.
11.1.6 Om aanbevelings van die subkomitees goed te keur.
12. VERGADERINGS
12.1 VERGADERINGS VAN DIE UITVOERENDE KOMITEE
Die Uitvoerende Komitee sal wanneer nodig vergader om die pligte wat deur die Genootskap en die Grondwet aan hom opgedra is, uit te voer.
12.2 RAADSVERGADERINGS
12.2.1 Die Raad sal op sodanige tyd en plek vergader as wat van tyd tot tyd deur hom bepaal word, of soos die President of in sy afwesigheid, die Vise-president besluit; op voorwaarde dat minstens twee Raadsvergaderings in elke finansiële jaar gehou sal word.
12.2.2 ‘n Spesiale Raadsvergadering –
(a) mag deur die President (of in sy afwesigheid die Vise-president) belê word, op sodanige tyd en plek as wat sodanige ampsbekleër besluit, of
(b) sal belê word op grond van ‘n aansoek onderteken deur nie minder nie as drie Raadslede, waarin die redes van die vergadering gemeld word. Sodanige aansoek moet aan die Sekretaris gerig word.
12.2.3 Skriftelike kennisgewing van die datum, tyd en plek van ‘n voorgenome Raadsvergadering moet nie minder nie as een-en-twintig (21) dae voor die vergadering sal plaasvind, deur die Sekretaris aan elke lid van die Raad gepos word.
12.3 ALGEMENE VERGADERINGS
12.3.1 ‘n Algemene vergadering van die Genootskap, wat bekend staan as die Algemene Jaarvergadering word een keer per jaar gehou, op so ‘n tyd en plek soos wat die Raad bepaal.
12.3.2 By so ‘n Algemene Jaarvergadering sal die Raad sy jaarverslag aan die Genootskap voorlê, tesame met ‘n jaarstaat van die finansiële jaar waarop die verslag betrekking het.
12.3.3 ‘n Spesiale algemene vergadering van die Genootskap mag te eniger tyd met minstens veertien dae kennisgewing belê word deur-
(a) die Raad, of
(b) die President (of in sy afwesigheid die Vise-president)
op grond van ‘n skriftelike aansoek daartoe, wat aan die Sekretaris gerig is, en wat deur nie minder nie as tien lede van die Genootskap onderteken is. So ‘n aansoek moet die doelstellings van die vergadering duidelik uiteensit en gedurende so ‘n vergadering mag slegs die gemelde sake behandel word.
12.3.4 Elke lid moet minstens dertig (30) dae voor die Algemene Jaarvergadering van die voorlopige tyd, datum en plek van die vergadering in kennis gestel word. Enige lid wat van plan is om enige saak by die Algemene Jaarvergadering vir bespreking voor te lê, moet die Sekretaris skriftelik daarvan in kennis stel, minstens een-en-twintig (21) dae voor die vergadering. Geen onderwerp wat deur enige lid voorgestel is, sal op die agenda van die Algemene Jaarvergadering geplaas word indien die verlangde kennisgewing van die voorstel nie ooreenkomstig hierdie subklousule gegee is nie.
12.3.5 ‘n Finale kennisgewing van die tyd, datum en plek waarop enige spesiale of algemene vergadering gehou sal word, tesame met die agenda vir die vergadering, moet minstens veertien (14) dae voor die vergadering aan elke lid van die Genootskap besorg word.
12.3.6 Daar sal geen besluit op ‘n Algemene Vergadering geneem word, tensy kennis daarvan op die agenda, wat tesame met die kennisgewing van die vergadering aan lede gestuur is, verskyn nie, of tensy so ‘n vergadering met ‘n twee-derde meerderheid van stemme, van lede wat teenwoordig en stemgeregtig is, of deur middel van moderne kommunikasietegnologie geag word om teenwoordig te wees, besluit om enige saak wat nie spesifiek op die agenda is nie, te bespreek en daaroor te stem.
12.3.7 Enige Algemene Vergadering mag verdaag word deur ‘n tweederde meerderheidstem van die lede teenwoordig.
12.3.8 Die President beklee die voorsitterstoel by alle vergaderings en indien hy afwesig is, beklee die Vise-president of ‘n Ere Lewens-vise-president in hierdie volgorde die amp. Indien daar nie een van hierdie ampsdraers by die vergadering teenwoordig is nie, moet die lede teenwoordig ‘n ander lid van die Raad verkies om by so ‘n vergadering die voorsitterstoel te beklee en enige persoon wat op so ‘n manier verkies is, sal met betrekking tot daardie vergadering oor die mag beskik om al die pligte van die President uit te voer.
12.3.9 Alle sake wat voor enige vergadering gelê word tensy andersins bepaal, moet besleg word deur die meerderheid van stemme van die lede wat by die vergadering teenwoordig is en stemgeregtig is, en in die geval van ‘n staking van stemme sal die persoon wat by daardie vergadering die voorsitterstoel inneem, ‘n beslissende stem naas sy beraadslagende stem hê.
12.3.10 Onderworpe aan die bepalings van Klousule 9.1.1 sal stemming by al die vergaderings
met die opsteek van hande geskied tensy enige teenwoordige lid stemming per geslote stembriefie verlang, in welke geval stemming deur geslote stembriefie sal geskied.
12.3.11 Geen saak wat origens behoorlik en grondwetlik by enige vergadering afgehandel is, kan ongeldig verklaar word slegs op grond van die feit dat enige lid geen kennisgewing kragtens die vereistes van die Grondwet, ontvang het nie.
12.3.12 Indien ‘n lid van die Genootskap nie ‘n Algemene Jaarvergadering kan bywoon nie, en ook nie deur middel van moderne kommunikasietegnologie kan inskakel nie, mag so ‘n lid wel ‘n stem uitbring oor sake wat op die vergadering dien, mits:
a) die voorstel waaroor gestem word op die agenda van die vergadering verskyn;
(b) daar volgens voorskrif deur die Grondwet voldoende kennis van gegee is, en
(c) daar nie tydens die vergadering veranderinge aan die voorstel gemaak is nie.
Bogenoemde stem moet minstens een uur voor die aanvang van die vergadering deur middel van enige kommunikasiemedium waarvan daar rekord van gehou kan word, by die dienende voorsitter van die Algemene Jaarvergadering ingedien word. Die Genootskap maak nie voorsiening vir volmag-stemme waarvolgens ‘n lid volmag gegee word om namens ‘n ander lid te stem nie.
13. KWORUM
13.1 Ses lede van die Genootskap wat persoonlik teenwoordig is by die aanvang van enige Algemene Vergadering vorm ‘n kworum vir so ‘n vergadering, en drie Raadslede wat persoonlik teenwoordig is by enige Raadsvergadering en wat stemgeregtig is, vorm ‘n kworum vir so ‘n Raadsvergadering.
13.2 Beide die President en die Vise-president en een Raadslid moet teenwoordig wees by enige vergadering van die Uitvoerende Komitee ten einde dit in staat te stel om te funksioneer.
13.3 Indien daar by enige vergadering nie ‘n kworum teenwoordig is nie, kan die vergadering verdaag tot ‘n tyd en plek (in nie minder nie as sewe (7) dae daarna) wat deur die lede persoonlik teenwoordig, bepaal word. Op so ‘n uitgestelde vergadering vorm die teenwoordige lede wel ‘n kworum, met dien verstande dat enige vergadering waar geen kworum teenwoordig is nie, maar waar die President, Vise-president of Ere Lewens-vise-president teenwoordig is, vir ‘n halfuur verdaag moet word waarna die lede wat dan teenwoordig is ‘n kworum vorm vir die afhandeling van sodanige sake (buiten Grondwetlike wysigings) as wat die bestuurslid wat die voorsitterstoel beklee, dringend mag verklaar. Sodanige verdaging vir ‘n halfuur sal nie tot nadeel van die regte van die vergadering wees nie, om na aandag aan die noodsaaklike aangeleenthede gegee is te verdaag tot ‘n tyd en plek soos hierin bepaal.
14. FINANSIëLE BEPALINGS
14.1 Die Raad sal sorg dat een of meer bankrekenings namens die Genootskap geopen word, waarin alle gelde wat die Genootskap ookal mag ontvang, gedeponeer word.
14.2 Alle betalings uit fondse van die Genootskap word per tjek of elektroniese fondsoorplasing gedoen en die tjeks en/of betalings moet deur die Sekretaris of ‘n persoon wat deur die Raad daarvoor aangestel is, gemagtig word en mede-gemagtig word deur sodanige persoon of persone wat deur die Raad daartoe gemagtig is, ooreenkomstig Klousule 10.15, op voorwaarde dat niks wat hierin vervat is die Raad sal verhoed om ‘n kleinkasfonds in stand te hou en te beheer nie. Ook kan sodanige gereelde en gewone maandelikse rekenings wat nie ‘n bedrag wat deur die Raad vasgestel is, oorskry nie kontant betaal word op voorwaarde dat die totale bedrag wat nodig is vir die betaling van sodanige rekenings per tjek getrek word.
14.3 Die finansiële jaar van die Genootskap strek van 1 Januarie tot 31 Desember van enige jaar.
14.4 Die Sekretaris of persoon deur die Raad aangestel moet behoorlik boekhou van die Genootskap se geldelike sake en hierdie boeke moet van tyd tot tyd maar nie minder nie as een keer per jaar deur ‘n gekwalifiseerde ouditeur wat deur ‘n Algemene Vergadering van die Genootskap daartoe aangestel is, nagegaan word en ‘n jaarstaat van die Genootskap soos op 31 Desember van die finansiële jaar waarop die verslag betrekking het, soos uiteengesit in Klousule 12.3.2, moet aan die Algemene Jaarvergadering van die Genootskap voorgelê word.
14.5 Al die bates van die Genootskap is gevestig in die Raad.
14.6 Die inkomste en besittings van die Genootskap, uit watter bron ookal ontvang, insluitende profyte en winste, sal enkel en alleen aangewend word ter bevordering van die doelstellings van die Genootskap en geen deel daarvan sal direk of indirek as dividend of bonus of andersins, betaal of oorgedra word aan enige persone wat te eniger tyd lede van die Genootskap is of was nie: Op voorwaarde dat niks wat hierin vervat is die betaling in goedertrou aan enige werknemer of ander persoon vir dienste wat aan die Genootskap gelewer is, kan verhoed nie.
15. KLUBS
15.1 ‘n Groep of groepe lede mag perdeklubs met die toestemming van die Raad stig met die oog daarop om die Nooitgedachtperderas te bevorder.
15.2 Sodanige klubs moet ‘n grondwet opstel wat aan die Raad vir goedkeuring voorgelê word.
16. ONTBINDING VAN DIE GENOOTSKAP
Indien daar, na die beëindiging of ontbinding van die Genootskap, en nadat al die skulde en verpligtinge nagekom is, enige bates oorbly, sal sodanige eiendom nie onder die lede van die Genootskap verdeel of aan hulle uitbetaal word nie, maar geskenk of oorgedra word aan sodanige ander instelling waarvan die doelstellings ooreenstem met dié van die Genootskap, soos deur die meerderheid op ‘n algemene vergadering van die Genootskap besluit, en wat opsigself vrygestel is van inkomstebelasting kragtens artikel 10(1)(cA)(i)(ff) van die Inkomstebelastingwet.
17. SUID-AFRIKAANSE STAMBOEK EN DIEREVERBETERINGSVERENIGING
17.1 Die Genootskap is lid van die Vereniging wat as Registrerende Owerheid ingevolge die Wet vir die Genootskap optree.
17.2 Die Genootskap moet die volgende dokumente by die Vereniging en die Registrateur indien:
(a) die Genootskap se jaarverslag, binne dertig (30) dae na die Algemene Jaarvergadering;
(b) die Genootskap se finansiële jaarstate binne dertig (30) dae na die Algemene Jaarvergadering; en
(c) enige ander oplaes soos deur die Vereniging van tyd tot tyd verlang.
17.3 Die Algemene Jaarvergadering van die Genootskap moet ‘n verteenwoordiger en ’n sekundus op die Algemene Jaarvergadering van die Vereniging aanwys.
18. GRONDWETWYSIGINGS
18.1 Grondwetwysigings word beperk tot wysigings elke 5de kalenderjaar. Wysigings sal vanaf 2019 slegs op kalenderjare plaasvind wat veelvoude van vyf is.
18.2 Byvoegings tot of wysigings of veranderings van die Grondwet mag slegs aangebring word deur ‘n meerderheidsbesluit van nie minder nie as twee-derdes van die lede wat by ‘n algemene vergadering van die Genootskap teenwoordig is, stemgeregtig is en stem. Ook moet van die voorgestelde wysigings of byvoegings asook die veranderings skriftelik kennis gegee word aan elke lid van die Genootskap nie minder nie as dertig (30) dae voor die vergadering.
18.3 Enige wysiging van die Grondwet moet aan die Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens voorgelê word.
18.4 Grondwetwysigings wat by ‘n algemene vergadering goedgekeur is moet binne dertig (30) dae aan die Registrateur en die Vereniging voorgelê word vir bekragting.
18.5 Geen sodanige byvoeging tot, of wysiging van die Grondwet wat goedgekeur is soos in Klousule 18.1 beskryf, sal van krag wees voordat daar nie dertig (30) dae vanaf indiening by die Vereniging en die Registrateur van Diereverbetering verloop het nie, waarna dit van krag sal wees.
19. HERROEPING VAN VORIGE GRONDWETTE EN ALGEMENE VERORDENINGE
Hierdie Grondwet herroep alle vorige Grondwette en Algemene Verordeninge van die Genootskap.
20. KANTOOR VAN DIE GENOOTSKAP
Die Kantoor van die Genootskap sal op enige plek wees soos wat die Raad mag bepaal en wat deur die volgende daaropvolgende Algemene Vergadering van die lede bekragtig word.
21. SKADELOOSSTELLING
Individuele lede van die Raad of enige lede van komitees van die Genootskap of personeel van die Genootskap word gevrywaar van enige eis wat mag voortspruit uit enige besluit of handeling wat in goedertrou geneem is.
22. OUTENTIEKE LESING VAN DIE GRONDWET
Aangesien hierdie Grondwet en die bygaande verordeninge in Afrikaans opgestel en goedgekeur is, word die Afrikaanse lesing as die outentieke beskou.
23. NAAM EN INWERKINGTREDING
23.1 Hierdie Grondwet heet die Grondwet van die Nooitgedacht Perdetelersgenootskap.
23.2 Hierdie Grondwet tree in werking nadat dit deur die Registrateur en die Vereniging goedgekeur is en wel op die datum waarop die laaste van bogenoemde instansies dit goedgekeur het, met dien verstande dat perde wat voor 1 Mei 2001 verwek is ingevolge Algemene Verordening 1 van die onmiddellik voorafgaande goedgekeurde Grondwet in die Stamboek opgeneem sal word. Perde wat na 1 Mei 2001 verwek is moet ingevolge die Algemene Verordeninge van hierdie Grondwet in die Stamboek opgeneem word.
ALGEMENE VERORDENINGE
- REGISTRASIE
1.1 REGISTRASIE VAN VOORVOEGSEL EN STOETKENTEKEN
1.1.1 Perde sal nie vir registrasie of aantekening aanvaar word nie tensy die teler voor die tyd, deur die Genootskap deur die Vereniging vir sy uitsluitlike gebruik ‘n voorvoegsel en kenmerkletters registreer waardeur al die perde wat namens hom geregistreer of aangeteken word, onderskei kan word. Die kenmerkletters bestaande uit nie meer as vier alfabetiese letters nie word deur die Sekretaris aan die teler toegeken.
1.1.2 Aansoek om die registrasie van sodanige voorvoegsel word by die Vereniging gedoen en moet vergesel gaan van sodanige registrasiegelde as wat tyd tot tyd voorgeskryf word. Die Vereniging sal namens die Genootskap die voorvoegsel op die Intergis registreer.
1.1.3 Enige voorvoegsel wat ten gunste van ‘n teler geregistreer is, mag nie deur ‘n ander teler as voorvoegsel gebruik word nie.
1.1.4 Geen voorvoegsel (insluitend die naam) sal uit meer as 18 karakters bestaan nie.
1.1.5 Die naam van ‘n dorp, stad of poskantoor in Suid-Afrika sal nie vir registrasie as ‘n voorvoegsel aanvaar word nie.
1.1.6 Die oordrag van ‘n voorvoegsel van een teler na ‘n ander sal nie toegelaat word nie behalwe onder sodanige omstandighede en aan sodanige persone as waarvoor die Algemene Verordeninge van die Konstitusie van die Vereniging voorsiening maak vir registrasie op die Intergis.
1.2 REGISTRASIE VAN PERDE
1.2.1 VEREISTES TEN OPSIGTE VAN REGISTRASIE
1.2.1.1 Geen aansoek vir registrasie of aantekening van ‘n perd sal deur die Raad oorweeg word tensy ‘n geboortekennisgewing vir sodanige perd bestaan nie.
1.2.1.2 Keuring is ‘n voorvereiste vir die bevestiging van ‘n perd se registrasie wat voor die ouderdom van drie (3) jaar in die geval van merries en vyf (5) jaar in die geval van hingste moet plaasvind. Die Uitvoerende Komittee kan wel goedkeuring verleen om op ‘n ad hoc basis ouer diere te laat keur.
1.2.1.3 Geen perd sal aanvaar word vir registrasie tensy beide sy vader en sy moeder ouer as nege-en-twintig (29) maande was ten tyde van sy geboorte nie.
1.2.1.4 Nooitgedachtperde wat nie aan die minimum rasstandaarde soos neergelê in Bylae B voldoen nie, sal nie geregistreer word nie.
1.2.1.5 Die registrasie of aantekening van alle Nooitgedachtperde deur die Vereniging word op aanbeveling van die Genootskap gedoen, en elke teler van sulke perde moet ‘n stoetregister hou waarin die geboortedatums van alle vullens aangeteken word tesame met besonderhede oor die geslag en teling asook van verkope, vrektes, kastrasies, ens., in gebreke waarvan verdere inskrywings deur die Raad gediskwalifiseer of geweier mag word. Telers kan te eniger tyd deur die keurder gelas word om sodanige verslae vir inspeksie voor te lê.
1.2.1.6 Geen Nooitgedachtperd sal in aanmerking kom vir inskrywing in die Stamboek tensy dit duidelik gemerk en uitdruklik van ‘n naam of ‘n nommer wat die naam verteenwoordig, voorsien is nie. Die Raad het die reg om enige aansoek ten opsigte van ‘n Nooitgedachtperd wat na sy oordeel nie duidelik gemerk is nie, of ‘n misleidende naam het, te weier.
1.2.1.7 Geen naam uitsluitende die voorvoegsel, mag uit meer as 20 karakters bestaan nie en mag nie meer spasies in beslag neem as wat van tyd tot deur die Vereniging bepaal word nie.
1.2.1.8 Indien die naam van ‘n Nooitgedachtperd eers aangeteken of geregistreer is, kan dit daarna nie weer verander word nie tensy die naam ‘n ooglopende fout openbaar, in welke geval die naam net op so ‘n manier verander sal word soos wat nodig is om die fout te herstel, of indien die beoogde naamsverandering (Stoetnaam uitgesluit) vergesel is van ‘n skriftelike motivering van die eienaar, mag die Raad tydens ‘n Raadsvergadering die verandering in oorleg met die Vereniging goedkeur.
1.2.1.9 As ‘n perd eers eenmaal goedgekeur is, in die Hulpstamboek of Stamboek vir Nooitgedachtperde opgeneem is en ‘n registrasiesertifikaat vir die betrokke perd uitgereik is, mag sodanige perd nie in die Hulpstamboek of Stamboek van enige ander perderas opgeneem word nie.
1.2.2 AANSOEK OM REGISTRASIE OF AANTEKENING
1.2.2.1 Aansoek om registrasie of aantekening van Nooitgedachtperde moet op die voorgeskrewe vorm gedoen word.
1.2.2.2 Alle aansoeke om registrasie/aantekening moet ‘n verbintenis en verklaring in die volgende vorm insluit: “Ek, (voeg teler se naam in) verklaar dat ek die dier hierin beskryf, geteel het en dat die teelbesonderhede, stamboek en identifikasie-kenmerke juis is, en ek beloof om die Grondwet, reëls en regulasies van die Nooitgedacht Perdetelersgenootskap en dié van die Suid-Afrikaanse Stamboek- en Diereverbeteringsvereniging te erken en as bindend te beskou.”
1.2.2.3 Aansoekvorms met betrekking tot Nooitgedachtperde wat kunsmatig verwek is, moet so geëndosseer word. Ook moet alle registrasie-sertifikate wat deur die Vereniging uitgereik word ten opsigte van enige perd wat deur kunsmatige inseminasie verwek is, die woorde “deur kunsmatige inseminering verwek”, of ‘n afkorting “KI” agter die naam van die perd op enige registrasiesertifikaat bevat.
1.2.2.4 Aansoekvorms met betrekking tot Nooitgedachtperde wat deur embrio-oorplasings voortgebring is, moet so geëndosseer word. Ook moet alle registrasiesertifikate wat deur die Vereniging uitgereik word ten opsigte van enige perd wat deur embrio-oorplasing voortgebring is, die woorde “deur embrio-oorplasing voortgebring” of ‘n afkorting “ET” agter die naam van die perd op enige registrasiesertifikate bevat.
1.2.3 KANSELLASIE VAN REGISTRASIE
1.2.3.1 Die Raad mag die Sekretaris opdrag gee om by die Vereniging aansoek te doen om die kansellering van die registrasie van enige Nooitgedachtperd wat –
(a) verkeerdelik geregistreer is;
(b) geregistreer is op grond van valse of bedrieglike inligting wat deur die eienaar verstrek is; of
(c) geregistreer is nadat die eienaar versuim het om te voldoen aan enige verordening waaraan voldoen moes word om te verseker dat die registrasie foutloos geskied.
1.2.3.2 Voordat daar om die kansellasie van ‘n registrasiesertifikaat aansoek gedoen word, moet die Sekretaris die eienaar van die perd minstens dertig (30) dae voor die tyd skriftelik, na sy jongste bekende adres, kennis gee van sy voorneme om dit te doen.
1.2.4 KENNISGEWING VAN GEBEURE WAT DIE KANSELLASIE VAN GEBOORTE- OF REGISTRASIESERTIFIKATE NOODSAAK
1.2.4.1 Indien ‘n Nooitgedachtperd wat geregistreer is of vir registrasie geskik is vrek, gekastreer of gesteriliseer word, moet die Genootskap binne dertig (30) dae na die sodanige gebeure in kennis gestel word en die registrasiesertifikaat of die geboortesertifikaat van sodanige perd moet terselfdertyd aan die Genootskap teruggestuur word, met die datum van die onderskeie gebeure behoorlik daarop geëndosseer.
1.2.4.2 Geboorte- of registrasiesertifikate van bogenoemde perd moet onverwyld aan die Genootskap gestuur word vir deursending aan die Vereniging met die oog op kansellering.
1.2.5 HERSTEL VAN DIERE IN DIE KUDDEBOEK
Indien die geboorte- of registrasiesertifikaat van ‘n perd gekanselleer is, sal so ‘n perd slegs op aanbeveling van die Raad, in die rekords van die Genootskap en die Vereniging herstel word op voorwaarde dat die aansoek om herstelling van die dier deur dieselfde persoon aangevra word, wat om die kansellasie daarvan aansoek gedoen het. Die aansoek om die herstelling van ‘n perd moet vergesel gaan van die gelde wat van tyd tot tyd deur die Raad voorgestel en op ‘n Algemene Vergadering bekragtig is (Bylae A).
2. IDENTIFIKASIE
2.1 Die Genootskap se amptelike stelsel van permanente identifikasie van perde wat vir registrasie in die Stamboek in aanmerking kom, is brandmerke aan die linkernekvlak of linker agter bobeen of tatoeëermerke aan die binnekant van die bo- of onderlip, of boonste tandvleis, of mikroskyfies ingeplant op die linkernekvlak.
2. 2 Alle vullens moet deur die teler op die linkernekvlak of linker agter bobeen gebrand of aan die binnekant van die bolip of onderlip of boonste tandvleis getatoeëer word voor hulle die ouderdom van twaalf (12) maande bereik of voor hulle uit sy besit gaan (wat ookal eerste gebeur) met die kenmerkletters en ‘n nommer, wat ‘n volgnommer is, wat die teler aan die vul toegeken het. Mikroskyfies mag ook as alternatief ter identifisering op die linker kant van die nek ingeplant word.
2.3 WANNEER TATOEëER- OF BRANDMERKE EENMAAL AAN ‘N NOOITGEDACHTPERD AAN-GEBRING IS, SELFS AL IS DIT FOUTIEF, VAAG OF ONLEESBAAR, MAG DIT ONDER GEEN OMSTANDIGHEDE REGGEMAAK, VERBETER OF IN ENIGE OPSIG GEWYSIG WORD NIE TENSY DIE SEKRETARIS VOORAF SKRIFTELIK DAARTOE TOESTEMMING GEGEE HET. MIKROSKYFIES WAT EENMAAL INGEPLANT IS MAG NIE WEER VERWYDER WORD NIE.
2.4 Indien die teler met die merk van ‘n vul ‘n fout begaan, of wanneer die tatoeëer- of brandmerk vaag of onleesbaar word, of waar die mikroskyfie onleesbaar geraak het, moet die eienaar van die Nooitgedachtperd die Sekretaris skriftelik daarvan in kennis stel en die perd sal dan weer gemerk word in die teenwoordigheid van ‘n keurder wat deur die Raad daartoe aangestel is nadat sodanige keurder oortuig is van die ware identiteit van sodanige perd.
2.5 Behalwe die amptelike rasbrandmerk van die Genootskap en sy eie geregistreerde brand- of tatoeëermerk, mag daar geen ander byvoeging van enige ander merk van watter aard ookal aan die ore of liggaam van enige stamboek Nooitgedachtperd deur die teler of eienaar van die perd, of deur sy agent, aangebring word nie. Die perd wat sulke merke dra, mag na ‘n besluit van die Raad gediskwalifiseer word.
2.6 Geen geregistreerde of aangetekende Nooitgedachtperd mag verkoop of oorgedra word indien dit nie duidelik gemerk of gemikrochip is nie.
3. STAMBOEK
3.1 Die Genootskap sal ‘n stamboek of register saamstel en hou wat bekend sal staan as DIE NOOITGEDACHTPERDE-STAMBOEK wat sal bestaan uit:
(a) Die Basiese Register,
(b) Die Hulpstamboek Afdeling A,
(c) Die Hulpstamboek Afdeling B, en
(d) Die Volgeregistreerde Stamboek, SP
(e) Stamboom diere
(f) Nooitgedacht Sportperde
(g) Register vir Iberiese-projek perde
3.2 Die Genootskap mag, met die goedkeuring en onder die beheer van die Vereniging, ‘n Stamboek publiseer waarin die aantekeninge en registrasies wat onder hierdie verordeninge uitgevoer is, verskyn.
3.3 Nooitgedachtperde wat na inspeksie deur keurders van die Genootskap goedgekeur is, word soos hieronder in die Basiese Register, Hulpstamboek A of B of die Volgeregistreerde Stamboek van die Vereniging aangeteken of geregistreer.
3.4 BASIS REGISTER
Enige perd wat ‘n noemenswaardige bydrae tot die ras kan maak en wat voldoen aan die hoogste standaarde (Bylae B) soos neergelê deur die Raad sal op aansoek van die eienaar en na goedkeuring van ‘n keurder(s) in aanmerking kom vir aantekening in die Basis Register as ‘n perd om Nooitgedachterperde van te teel. Vullens van Basis perde moet streng gekeur word alvorens hulle in Hulpstamboek A opgeneem kan word. Registrasie sertifikate sal nie uitgereik word vir Basis perde nie, en alle Basis perde sal slegs voorwaardelik in die Basis Register opgeneem word, onderhewig aan prestasie van hul nageslag.
3.5 HULPSTAMBOEK A
‘n Perd wat:
(a) die vul is van ‘n SP-perd en ‘n Basis perd; of
(b) die vul is van twee A-perde; of
(c) stam uit ‘n Nooitgedacht-kudde waarvan die teler bewys van die die perd se afkoms kan lewer en wat tot bevrediging van die Raad van die gewenste feno- cum genotipe is, en minstens een van die twee ouers bekend moet wees as ‘n “B” of “SP” perd; en wat in al drie gevalle hierbo genoem, aan die rasstandaarde (Bylae B) en alle ander registrasievereistes voldoen, kom in aanmerking vir registrasie in Hulpstamboek A.
3.6 HULPSTAMBOEK B
‘n Perd wat die vul is van:
(a) twee B-perde; of
(b) ‘n A-perd en ‘n SP-perd;
(c) ‘n A-perd en ‘n B-perd;
en wat in alle gevalle hierbo genoem aan die rasstandaarde (Bylae B) en alle ander registrasievereistes voldoen, kom in aanmerking vir registrasie in Hulpstamboek B.
3.7 VOLGEREGISTREERDE STAMBOEK (SP)
‘n Perd wat die vul is van:
(a) ‘n SP-perd en ‘n B-perd; of
(b) twee SP-perde;
en wat aan die rasstandaarde (Bylae B) en alle registrasievereistes voldoen, kom in aanmerking vir registrasie in die Volgeregistreerde Stamboek.
3.8 STAMBOOM DIERE
3.8.1 Perde wat tans by die SA Boerperdtelersgenootskap se stamboek of die Kaapse Ryperd teelprojek se rekords aangeteken is, kan in die Nooitgedachterstamboek as Aanhangsel A opgeneem word as ‘n “stamboom” dier, mits sodanige perd die Nooitgedachterkeuring slaag met spesifieke klem op die tipe-vereistes wat gestel word. Sodanige “stamboom” dier sal geen voorvoegsel dra nie, maar sy SA Boerperd of Kaapse Ryperd voorvoegsel sal deel vorm van sy naam ten einde sy oorsprong aan te dui. Sodanige stamboom diere sal hoogstens as Hulpstamboek A diere opgeneem kan word;
3.8.2 Perde waarvan een ouer uit die Nooitgedachterstamboom kom en die ander op die SA Boerperdstamboek geregistreer is, of in die Kaapse Ryperdprojek aangeteken is, sal hoogstens in Aanhangsel B opgeneem kan word, op grond van die opgraderingsbeginsel dat SP (Nooitgedachter) + A (SA Boerperd) = B. Die normale opgraderingsbeginsels sal dus geld;
3.8.3 In alle gevalle hierbo genoem, moet “stamboom” perde aan die rasstandaarde en keuringsvereistes (Bylae B) en alle ander registrasievereistes voldoen, om in aanmerking te kom vir registrasie.
3.8.4 Die nageslag van voorheen aangetekende Nooitgedachter diere, wat van die Nooitgedachterstamboek verwyder is, kan aangeteken word volgens die status wat hulle sou gehad het, sou die ouers nooit verwyder gewees het nie (Let wel: sodanige perde ressorteer dus nie onder “stamboom” diere nie aangesien hul vorige status behoue bly);
3.9 NOOITGEDACHT SPORTPERD REGISTER
Enige dier wat die nageslag is van ‘n Nooitgedachtperd en enige ander perd, wat geteel is vir die uitsluitlike doel om as sportperd gebruik te word, en wat voldoen aan die genotipiese en fenotipiese vereistes soos wat van tyd tot tyd deur die Raad bepaal mag word, kan as ‘n Nooitgedacht Sportperd in die Nooitgedacht Sportperd Register aangeteken word.
- IBERIESE KRUIS REGISTER (NIC)
- Slegs geregistreerde Nooitgedachters en Iberiese perde , wat in hul land van herkoms en by die telersgenootskap, of vereniging, waaraan hulle behoort aangeteken is; asook hulle nageslag sal in aanmerking kom vir opname in die NIC (Nooitgedachter Iberian Cross) register.
- Buiten vir die uitsonderings wat onder hierdie klousule (3.10) bestaan, MOET diere in hierdie register aan alle Algemene Verordeninge in hierdie Grondwet, met alle subseksies, asook alle reëls en regulasies wat van tyd tot tyd deur SA Stamboek gepubliseer word, voldoen.
- Die volgende uitsonderings is van toepassing op alle perde wat in die NIC register opgeneem word:
- Perde in die NIC register kry nie ‘n Nooitgedachter brandmerk nie
- Perde in die register mag teel.
- Slegs Iberiese kruise word aanvaar.
- Geen Keurings/Inspeksies word binne die register gedoen nie.
- Indien ‘n Teler ‘n perd in die NIC register identifiseer waarmee hulle wil teel, kan die betrokke NIC perd oorskuif na die Nooitgedachter register, mits daar aan die volgende voorwaardes voldoen is:
- Enige dier wat oorskuif vanaf die NIC register na die Nooitgedachter register, MOET die vul wees van ‘n Hulpstamboek B of ‘n Volgeregistreerde Stamboek (SP) Nooitgedachter perd.
- Formele Keurings Aansoek moet na die Keuringskomitee gestuur word.
- Twee Senior Keurders moet die Keurings behartig vir beide merries en hingste.
- Aangepaste minimum rasstandaarde vir Keurings soos per Keuringsvorm:
- Temperament: +1 dus minimum punt van 7
- Beweging (Stap en draf): +2, dus minimum punt van 7
- Indien perd nie Keurings slaag nie sal dit steeds toegelaat word om in die NIC register opgeneem te bly.
- Indien die perd Keuring slaag sal die Perd oorbeweeg na die Hulpstamboek A register.
3.11 STAMBOEKREKORDS
Die volle teelbesonderhede van alle geregistreerde- en basisperde moet in die Kantoor van die Genootskap gehou word en afskrifte van genoemde teelbesonderhede moet ook by die Vereniging ingedien word. Die Stamboek sal die nommer, die vader en moeder se nommer, die datum van geboorte, die name van die teler en eienaar en indien beskikbaar ook die datum van inspeksies van elke perd daarin opneem.
4. OORSKAKELING VAN VOORHEEN AANGETEKENDE EN GEREGISTREERDE PERDE
4.1 Oorskakeling na Hulpstamboekafdelings en die Volgeregistreerde Stamboek.
4.1.1 Alle perde wat van die Ontwikkelingsregister en die Stamboek na die Hulpstamboek-afdelings en die Volgeregistreerde Stamboek oorgeskakel word moet aan die rasstandaard (Bylae B) en alle registrasievereistes voldoen.
4.2 Alle F1- en F2-perde kom vir registrasie in Hulpstamboek A in aanmerking en staan bekend as A-perde.
4.3 F3-perde kom vir registrasie in Hulpstamboek B in aanmerking en staan bekend as B-perde.
4.4 F4-, F5- en F6-perde kom vir registrasie in die Volgeregistreerde Stamboek in aanmerking en staan bekend as Volgeregistreerde of SP-perde.
5. DEKKING- EN INSEMINERINGSERTIFIKATE
5.1 Indien ‘n vul wat vir registrasie in aanmerking kom, deur ‘n hings verwek is wat ten tyde van die dekking nie in besit van die teler van die vul was nie, moet ‘n dekkingsertifikaat, onderteken deur die eienaar van die hings ten tyde van die dekking, saam met die geboortekennisgewing van die vul by die Genootskap ingedien word. Die dekkingsertifikaat moet die name en die registrasienommers van die betrokke hings en merrie verstrek, asook die dekdatum(s).
5.2 Indien ‘n gedekte merrie wat geregistreer is of in aanmerking kom vir registrasie, verkoop word, moet die verkoper die koper van ‘n dekkingsertifikaat (natuurlike paring) of ‘n inseminering-sertifikaat voorsien indien die merrie gedek is.
5.3 Sodanige sertifikaat moet die naam, brandnommer en registrasienommer en waar van toepassing, die mikroskyfienommer van die hings sowel as dié van die betrokke merrie en die datum van die inseminering of dekking bevat.
5.4 In die geval van natuurlike paring waar die presiese datum van dekking nie bekend is nie, moet die periode waarin die betrokke merrie saam met die hings geloop het, vermeld word sowel as ‘n verklaring dat die betrokke merrie nie deur ‘n ander hings in dieselfde periode gedek kon word nie.
5.5 Die dekking- of insemineringsertifikaat moet deur die eienaar van die hings onderteken word en moet deur die eienaar van die vul saam met die geboortekennisgewing by die Genootskap ingedien word.
6. VERANDERINGS OF BYVOEGINGS OP SERTIFIKATE
Enige wysigings van of byvoeging tot die essensiële inligting of besonderhede wat amptelik op enige geboorte- of registrasiesertifikaat voorkom en wat nie deur die Sekretaris van die Genootskap of die Hoofuitvoerende Beampte van die Vereniging (al na gelang van die sertifikaat) geparafeer is nie, of enige ongemagtigde endossement of opmerking op sodanige sertifikaat, sal so ‘n sertifikaat ongeldig maak.
7. DUPLIKAAT SERTIFIKAAT
7.1 ‘n Duplikaat van die oorspronklike geboorte-, aantekening- of registrasiesertifikaat wat met betrekking tot ‘n Nooitgedachtperd uitgereik is kan verkry word indien daar tot bevrediging van die Raad bewys gelewer kan word dat die oorspronklike verlore is, per ongeluk vernietig is, of in besit is van ‘n persoon wat verkeerdelik weier om dit aan die persoon wat daarop geregtig is, te oorhandig.
7.2 Die aansoek om ‘n duplikaat geboorte-, aantekening- of registrasiesertifikaat moet vergesel gaan van ‘n beëdigde verklaring deur die aansoeker, wat die eienaar van die betrokke perd moet wees. Sodanige aansoek en verklaring moet aan die Vereniging of die Sekretaris gerig word al nagelang van die sertifikaat wat verlang word. Sodanige aansoek moet van die voorgeskrewe gelde soos deur die Raad voorgestel en op ‘n Algemene Vergadering bekragtig is, vergesel gaan (Bylae A).
8. SERTIFIKAAT IN UITGEBREIDE STAMBOOM
8.1 Enige persoon mag by die Vereniging aansoek doen om ‘n duplikaat sertifikaat van ‘n uitgebreide stamboom met betrekking tot ‘n Nooitgedachtperd wat geregistreer is. Elke sodanige aansoek moet van die voorgeskrewe gelde soos deur die Raad voorgestel en op ‘n Algemene Vergadering bekragtig is, vergesel gaan (Bylae A).
9. UITVOER VAN PERDE EN GENETIESE MATERIAAL
Ten einde beheer uit te oefen ten opsigte van genetiese materiaal wat Suid Afrika verlaat, sal die
volgende beginsels geld alvorens die Raad, of uitvoerende komittee, toestemming daartoe verleen:
9.1 By die uitvoer van embrio’s, klone en semen moet die betrokke ouers gekeur wees. Hingste moet minimum van 80% en merries ‘n minimum van 76% tydens hulle keuring behaal het, terwyl reuns slegs gekeur moet wees.
9.2 Teeldiere wat uitgevoer word moet, volgens die oordeel van die Raad, genoegsame teelmateriaal in Suid-Afrika agterlaat, hetsy deur middel van direkte nageslag of naby familie van goeie kwaliteit; of in die geval van hingste mag die Raad daarop aandring dat genoegsame semen by ‘n geskikte KI stasie geberg word (Semen koleksie en -berging op Genootskapskoste).
9.3 Dragtige, gekeurde merries kan slegs uitgevoer word indien hulle deur gekeurde hingste gedek is.
9.4 Alle perde wat uitgevoer word moet oor ‘n gepaste perdepaspoort beskik wat voldoen aan die vereistes van die betrokke owerhede ter sprake.
9.5 Nieteenstaande voldoening aan al die bostaande vereistes, berus die finale besluit by die Raad, of die Uitvoerende Komitee, wat binne 30 dae na sodanige skriftelike aansoek ‘n beslissing moet lewer.
9.6 Geen Nooitgedachter perd of genetiese materiaal van sodanige perd, mag sonder die magtiging van die Registrateur uit die republiek uitgevoer word nie aangesien die Nooitgedachter as “Landras”verklaar is onder die Diereverbeteringswet.
10. OORDRAGTE
10.1 Vir alle verkope of verwisseling van eienaarskap van geregistreerde Nooitgedachtperde of dié wat vir registrasie in aanmerking kom, moet aansoek om oordrag aan die koper of nuwe eienaar by die Genootskap gedoen word deur die verkoper of oordraer.
10.2 Sodanige aansoek om oordrag moet binne dertig (30) dae na die oordragdatum van die betrokke perd aan die Sekretaris gepos of oorhandig word. Indien die aansoek later as dertig (30) dae na die oordragdatum aan die Sekretaris gepos of oorhandig word, sal die oordraggelde wat betaalbaar is, verhoog word soos deur die Raad voorgestel en op ‘n Algemene Vergadering bekragtig is (Bylae A).
10.3 ‘n Aansoek om sodanige oordrag wat meer as dertig (30) dae na die oordragdatum aan die Genootskap gepos of oorhandig word, sal deur die Genootskap oorweeg word en kan aanvaar word na die betaling van sodanige gelde as wat die Raad van tyd tot tyd voorstel en op ‘n Algemene Vergadering bekragtig is (Bylae A). Gevalle waaroor daar twyfel bestaan moet na die Uitvoerende Komitee verwys word. Die Uitvoerende Komitee het die reg om hierdie bevoegdheid te delegeer.
10.4 ‘n Aansoek om die oordrag van ‘n geregistreerde Nooitgedachtperd moet vergesel gaan van die geboorte- of registrasiesertifikaat van die betrokke perd waarop die volle naam en adres van die nuwe eienaar, asook die handtekening van die verkoper of oordraer en die oordragdatum ingevul is in die spasie wat daarvoor op die sertifikaat gelaat is.
10.5 Vir die doel van Verordening 10.4, word die oordragdatum gereken as die datum wat die perd die besit van die verkoper of oordraer verlaat.
10.6 Indien die perd wat oorgedra word, dragtig is, moet die oordraer tesame met die aansoek om oordrag ook ‘n dekkingsertifikaat of inseminasiesertifikaat aan die Sekretaris voorlê. Sodanige sertifikaat moet die dekkingsdatum of die tydperk wat die merrie by ‘n spesifieke hings geloop het of inseminasiedatum aandui asook die volle naam en stamboeknommer van die hings en moet ‘n verklaring bevat te dien effekte dat die betrokke merrie nie deur enige ander hings voor die datum van aflewering gedek kon gewees het nie as die een wat in die dekkingsertifikaat genoem is.
10.7 Verandering in eienaarskap sal as plaasgevind beskou word indien die Nooitgedachtperd –
(a) verkoop, uitgeruil of geskenk is;
(b) geërf is;
(c) oorgedra is wanneer ‘n vennootskap ontbind is;
(d) geregistreer is in die name van meer as een eienaar gesamentlik, en enigeen (of meer) van sodanige eienaars afstand doen van sy aandeel in die perd wat so geregistreer is: en
(e) by wyse van ’n sessie aan ’n ander persoon oorgedra is.
10.8 Indien die Raad van mening is dat die verkoper of oordraer heeltemal in gebreke bly of weier om enige stappe te doen ten uitvoer van sodanige oordrag, en in gebreke bly of weier om die oorspronklike geboorte- of registrasiesertifikaat te verskaf, en indien die nuwe eienaar bereid is om sodanige gelde as wat die Raad voorskryf te betaal, mag die Raad met die toestemming van die Vereniging sodanige stappe doen as wat nodig geag word om te voldoen aan die wense van die koper of nuwe eienaar, op voorwaarde dat in so ‘n geval, die boetebepalings wat in Verorden-inge 10.2 en 10.3 neergelê is, op die nuwe eienaar van toepassing is.
10.9 In gevalle van oordragte tussen eggenotes of van ouer na kind of van kind na ouer (insluitende aangetroude en kleinkinders), ongeag die feit dat dit deur verkoop, skenking of erwing geskied, sal slegs die helfte van die voorgeskrewe gelde betaalbaar wees.
11. REëLS MET BETREKKING TOT DIE TOEPASSING VAN KUNSMATIGE INSEMINERING
11.1 Diere wat wettiglik deur kunsmatige inseminering verwek is, dit is in ooreenstemming met die Wet, en sy Regulasies sal vir registrasie in aanmerking kom op voorwaarde dat aan al die vereistes van die Grondwet met betrekking tot registrasie mutatis mutandis voldoen is.
11.2 Geen geboortekennisgewing van diere wat so verwek is sal met die oog op registrasie deur die Genootskap aanvaar word nie, tensy dit geëndosseer is “Deur Kunsmatige Inseminering Verwek” en vergesel gaan van ‘n behoorlike voltooide insemineringsertifikaat in ooreenstemming met die Regulasies vir die kunsmatige inseminering van diere uitgevaardig kragtens die Wet.
11.3 Indien verskillende hingste vir die verskaffing van semen gebruik word vir die kunsmatige inseminering van dieselfde merrie, minder as agt-en-twintig (28) dae uitmekaar, sal geen nageslag wat verwek word vir registrasie in aanmerking kom nie, ongeag die bepalings van Verordening 11.1, tensy die vaderskap deur bloedtipering of ander bewese wetenskaplike metode bevestig is nie.
11.4 Die Genootskap behou die reg voor om deur middel van sy ampsdraers toesig te hou oor, en/of inspeksie uit te voer aangaande die noukeurige aantekening van die toepassing van kunsmatige inseminering deur sy lede.
11.5 Die Genootskap behou die reg voor om te weier om die nageslag wat deur kunsmatige inseminering verwek is, te registreer indien enige van die reëls en regulasies wat deur die Genootskap neergelê is nie ten volle nagekom is nie.
11.6 Buitelandse telers wat in lande buite die Republiek van Suid-Afrika woon wat die voorregte van registrasie van stamboekdiere geniet, ooreenkomstig die bepalings van die Wet, mag aansoek doen om die aantekening of registrasie van kunsmatig verwekte nageslag, op voorwaarde dat die semen verkry word van ‘n bron wat deur die Genootskap goedgekeur is; en verder op voorwaarde dat die opvang van die semen, die hantering daarvan, die inseminering van diere en die hou van verslae so gedoen word as wat die Genootskap van tyd tot tyd goedkeur.
11.7 Onderworpe aan die bepalings van die Wet, het telers die reg om semen van hulle eie hingste te versamel en te verkoop vir gebruik op hulle eie of ander merries. Die nageslag wat spruit uit die gebruik van sodanige semen kan in aanmerking kom vir registrasie, op voorwaarde dat:
(a) volledige besonderhede van die betrokke hings en die verkope van die semen aan die Genootskap voorgelê is;
(b) die amptelike bloedtiperingslaboratoriumnommer van die hings aan die Genootskap voorgelê is;
(c) die opvang en opberging van semen gedoen is deur ‘n organisasie wat deur die Raad goedgekeur is;
(d) aan al die ander vereistes van die Grondwet, die Grondwet van die Vereniging sowel as die Wet en die Regulasies daarkragtens uitgevaardig, voldoen word.
11.8 Die Genootskap behou die reg voor om die registrasie van perde wat deur middel van kunsmatige inseminasie verwerk is te weier indien nie aan enige een van die reëls met betrekking tot kunsmatige inseminasie voldoen is nie.
12. REëLS MET BETREKKING TOT EMBRIO-OORPLASINGS
12.1 Perde wat voortgebring is as ‘n resultaat van embrio-oorplasing kan in aanmerking kom vir registrasie, op voorwaarde dat:
(a) die sertifikaat van die amptelike bloedtiperingslaboratoriumnommers van beide die hings en die merrie aan die Genootskap voorgelê word;
(b) ‘n sertifikaat van ‘n veearts of embrio-oordraer dat aan die vereistes vir embrio- oorplasings soos in die Wet en die Regulasies daarkragtens uitgevaardig, voorgeskryf, voldoen is.
(c) ouerskap in elke geval deur bloedtipering of ‘n ander wetenskaplike metode van die bevestiging van ouerskap wat vir die Genootskap aanvaarbaar is, bewys word; en
(d) aan al die ander vereistes van die Grondwet, die Grondwet van die Vereniging, sowel as die Wet en Regulasies daarkragtens uitgevaardig, voldoen word.
12.2 Die Genootskap behou die reg voor om die registrasie van perde wat uit embrio-oorplasings voortgebring is, te weier indien nie aan enige van die reëls met betrekking tot embrio-oorplasings voldoen is nie.
12.3 Alle registrasiesertifikate wat deur die Vereniging uitgereik word ten opsigte van perde voortgebring deur embrio-oorplasings sal die letters “ET” na die naam van die perd op die registrasiesertifikaat bevat.
13. GESAMENTLIKE EIENAARS VAN HINGSTE EN MERRIES
13.1 In die geval van gesamentlike besit deur meer as een eienaar van hingste moet die volle naam en adres van elke eienaar by die Genootskap en die Vereniging op rekord wees.
13.2 Indien merries wat die eiendom van ander telers as die mede-eienaars is, deur die betrokke hings gedek word, moet die dekkingsertifikaat wat ooreenkomstig Verordening 5 vereis word, onderteken word deur die mede-eienaar op wie se plaas die hings was toe die dekking plaasgevind het.
13.3 In die geval van gesamentlike besit van merries deur meer as een eienaar, moet die volle name en adresse van elke eienaar by die Genootskap en die Vereniging op rekord wees.
13.4 Indien nie anders aangedui deur die eienaar nie, sal die nageslag aangeteken word met die voorvoegsel en kenmerkletters van die eienaar in wie se sorg die merrie ten tyde van die geboorte van die vul was.
13.5 Indien ‘n eienaar die gebruik van die merrie of merries deur ‘n medeteler toelaat, moet die toepaslike behoorlik voltooide en getekende dekkingsertifikaat deur die geregistreerde eienaar van die hings en die kurator van die merrie saam met ‘n geboortekennisgewing voorgelê word.
13.6 Indien, in die geval van Verordeninge 13.4 of 13.5, die kurator nie een van die eienaars is nie, sal die nageslag in die naam van die eienaar op die geboortesertifikaat geregistreer word.
14. DRAGTIGHEIDSPERIODE
14.1 Die dragtigheidsperiode wat ten opsigte van Nooitgedachtperde erken word is ongeveer driehonderd vier-en-dertig (334) dae. Die minimum dragtigheidsperiode is tweehonderd nege-en-negentig (299) dae en die maksimum driehonderd sewe-en-sestig (367) dae. Geen dragtigheids-periode buite hierdie tydsbestek sal sonder spesiale goedkeuring van die Raad erken word nie tensy dit deur bloedtipering of ‘n ander wetenskaplike metode bevestig word.
14.2 Die minimum aanvaarbare periode tussen twee vullens wat agtereenvolgens uit dieselfde merrie gebore is, is driehonderd en vyftien (315) dae.
15. KENNISGEWING VAN GEBOORTES
15.1 Die teler van ‘n vul van ‘n geregistreerde merrie, of ‘n merrie wat vir registrasie in aanmerking kom, moet die Genootskap van die geboorte van ‘n vul in kennis stel, ongeag of so ‘n vul lewendig of dood gebore is, raseg of kruising is, of vir registrasie behou word, al dan nie.
15.2 Alle kennisgewings van geboorte moet op die voorgeskrewe geboortekennisgewingvorms geskied (Bylae C), in alle opsigte behoorlik voltooi en deur die teler onderteken, en nie later nie as tweehonderd-en-tien (210) dae na die geboortedatum van die betrokke vullens aan die Genootskap gestuur word.
15.3 Ongeag Verordening 15.2, kan die Genootskap ‘n kennisgewing van geboorte aanvaar wat die Genootskap meer as tweehonderd-en-tien (210) dae na die geboorte van die vul bereik mits die kennisgewing verder in orde is. So ‘n laat geboortekennisgewing sal aan ‘n boete onderworpe wees wat van tyd tot tyd deur die Raad bepaal sal word. Die Raad kan egter volgens eie mening besluit of omstandighede as uitsonderlik genoeg beskou kan word ter verskoning van ‘n kennisgewing wat die Genootskap later as tweehonderd-en-tien (210) dae na die geboortedatum bereik. By die aanvaarding van so ‘n geboortekennisgewing mag die Raad ‘n verdere boete oplê, soos van tyd tot tyd deur die Raad bepaal.
15.4 In die geval van veelvoudige geboortes, moet die teler benewens die gegewens wat gewoonlik verlang word, ook op die geboortekennisgewingvorm van elke vul, die naam en geslag van die ander vul/vullens aandui.
15.5 Elke teler sal ‘n voorraad van geboortekennisgewingvorms hou wat in boekvorm of ‘n lêer gebind en agtereenvolgens genommer is en op aanvraag van enige teler van die Sekretaris verkrygbaar is teen ‘n prys wat van tyd tot tyd bepaal sal word.
15.6 Wanneer ‘n teler kennis van geboorte van ‘n vul gee, moet die afskrif van sodanige vorm so voltooi word dat die inligting wat daarop verskyn in alle opsigte ooreenstem met die gegewens op die oorspronlike vorm of vorms wat aan die Genootskap gestuur word. Al die afskrifte moet deur die teler in die boek waarin hulle gebind is, bewaar word op so ‘n manier dat dit te alle redelike tye vir insae en kontrolering beskikbaar is. Inskrywings moet agtereenvolgens gedoen word en die laaste afskrif moet nie uitgeskeur of vernietig word nie.
15.7 Geboortekennisgewings moet die datum van geboorte en die geslag van die vul aandui sowel as die name en registrasienommers van die ouers van die vul. Die kleur en permanente merke op die vul moet duidelik omskryf en gemerk word op die voorgeskrewe vorm.
15.8 Die Raad sal die Vereniging versoek om rekord te hou van alle vullens, waarvan die teler die Genootskap behoorlik in kennis gestel het.
15.9 Die Raad het die reg om die registrasie van enige Nooitgedachtperd wat volgens die oordeel van die keurder tydens verpligte keurings (Verordening 17) nie aan die minimum rasstandaarde voldoen nie, of van enige Nooitgedachtperd ouer as drie (3) jaar in die geval van merries en vyf (5) jaar in die geval van hingste, waarvoor nog nie aansoek vir keuring gedoen is nie, te kanselleer en die geboortesertifikaat en/of registrasiesertifikaat wat vir die betrokke perd uitgereik is, terug te eis.
15.10 Geboortekennisgewings is onderworpe aan die aanvaarding deur die teler van die volle verantwoordelikheid en korrektheid van die stamboom, teelbesonderhede en permanente identifikasiemerke van die perde wat in die geboortekennisgewing beskryf is en dat al die grondwetlike vereistes met betrekking tot geboortekennisgewings nagekom is.
16. BEVESTIGING VAN OUERSKAP
16.1 Ouerskap van alle diere wat in die Nooitgedachterstamboek (verwys Verordening 3.1) aangeteken of geregistreer word, moet by wyse van DNS-profiele bevestig word. Bevestiging van ouerskap is vir die betrokke teler se rekening.
16.2 Die Raad kan, ongeag die bepalings van Verordening 16.1, in uitsonderlike gevalle toestemming gee dat diere in Hulpstamboek, Aanhangsel A aangeteken mag word sonder verifiëring van ouerskap. In sulke gevalle sal die betrokke dier se DNS-profiel steeds op rekord geplaas moet word, sowel as die DNS-profiel van enige van die ouers van die dier wat wel bekend is, waarvan die DNS-profiel wel gedoen kan word.
16.3 Die laboratoriumverslag (uitgereik deur ‘n geakkrediteerde laboratorium) waarin die ouerskap van die vul bevestig word (d.m.v. DNS-tipering), moet saam met die geboortekennisgewing by die Genootskap ingedien word.
17. KEURING EN PLIGTE VAN KEURDERS
17.1 Die Uitvoerende Komitee sal keurders opdrag gee om alle Nooitgedachtperde te keur. ‘n Teler doen aansoek om keuring. Indien moontlik, en die getal perde dit regverdig, sal telers wat perde vir keuring aanbied een keer per jaar besoek word.
17.2 Die keurders sal volgens die voorgekrewe handleiding (Bylae D) optree en uitvoering aan die bepalinge van die Standaard van Voortreflikheid (Bylae B) gee.
17.3 Die keurder sal elke perd wat vir keuring aangebied word en waarvan die geboortesertifikaat aan hom voorgelê word, goed- of afkeur. Hy moet homself vergewis van die kleur, identifikasie, ouderdom, ens. van die perd wat vir keuring aangebied word. Kleurveranderings kom soms gedurende hul lewe by Nooitgedachtperde voor, daarom moet die keurder enige sodanige kleurverandering op die sertifikaat aanteken, parafeer en dateer. Verder moet hy tot eie bevrediging seker maak dat die perd in alle opsigte voldoen aan die rasstandaarde soos van tyd tot tyd deur die Raad voorgestel en op ‘n Algemene Vergadering goedgekeur is (Bylae B). Enige verskil of teenstrydigheid kan ‘n perd vir inskrywing in die Stamboek diskwalifiseer.
17.4 Die geboortesertifikate van perde wat goedgekeur word, moet deur die keurder op die plek daarvoor bedoel, geteken word en die datum van goedkeuring daarop ingevul word. Die sertifikate hetsy geboorte-, aantekening-, of registrasiesertifikate van perde wat dood is, moet aan die keurder oorhandig word. Die keurder moet die betrokke sertifikate tesame met ‘n inspeksieverslag aan die Sekretaris stuur vir kansellasie van die perde se geboortesertifikate.
17.4.1 Hingste moet tydens streekskeurings deur ten minste drie keurders gekeur word en moet tydens die keuring aan die hand vertoon word deur hulle te laat staan, stap en draf en onder die saal vertoon word deur gery te word en hulle te laat staan, stap, draf en galop. Die Raad kan in verdienstelike gevalle alternatiewe keurings van hingste buite streeks-verband goedkeur. Hingste wat nie onder saal vertoon word nie kan wel gekeur word, maar kan nie in aanmerking kom vir meriete keuring nie.
17.5 Hingste moet na die ouderdom van agtien (18) maande vir keuring aangebied word. Merries moet na die ouderdom van twaalf (12) maande vir keuring aangebied word. Die keurder het die mag om ‘n perd na eie oordeel oor te hou vir keuring tydens die volgende besoek.
17.6 Enige teler wat nie met ‘n keurder se beslissing tevrede is nie, mag binne drie weke na die keuring appèl aanteken by die Sekretaris. Sodanige appèl moet van ‘n deposito van ‘n bedrag soos voorgestel deur die Raad en op ‘n Algemene Vergadering goedgekeur is (Bylae A) en ‘n volledige skriftelike beskrywing van die betrokke dier(e) vergesel gaan. ‘n Appèlraad wat deur die Raad aangewys word, sal dan in die teenwoordigheid van die betrokke keurder die perd(e) binne een maand na die appèl keur en indien die appèl slaag, sal die deposito terugbetaal word. Indien nie, verbeur die appellant sy deposito. Die appellant mag ook vir die reiskostes van die keurders verantwoordelik gehou word.
17.7 Telers sal vroegtydig van die tyd en datum van die keurder(s) se voorgenome besoek in kennis gestel word.
17.8 Spesiale keurings kan slegs met die toestemming van die Uitvoerende Komitee geskied, op voorwaarde dat die aansoeker die reis- en ander kostes van die keurder betaal en indien die keurder beskikbaar is.
17.9 Die keurders moet gedurende hulle toere altyd as reklame-agente optree, en demonstrasies en lesings op geleë plekke hou waar dit moontlik is om plaaslike boere saam te trek.
17.10 Die keurders in diens van die Genootskap mag in opdrag van die Raad van tyd tot tyd sonder waarskuwing ‘n algemene keuring van enige stoetery doen.
17.11 Die keurders mag nie instruksies of kommissies van telers of nie-lede aanvaar om die koop en verkoop van Nooitgedachtperde te bewerkstellig nie.
17.12 ‘n Teler mag nie as keurder vir sy eie perde optree nie.
17.13 Elke Nooitgedachtperd waarvan beide ouers geregistreer is of was en wat vir registrasie goedgekeur is sal met die rasbrandmerk op die linkerbobeen deur die keurder gebrand word.
17.14 Die keurder moet die geboortesertifikate van die goedgekeurde perde teken en aan die Sekretaris besorg. By ontvangs van die geboortesertifikaat van goedgekeurde perde sal registrasiesertifikate op aanbeveling van die Genootskap deur die Vereniging uitgereik word.
18. OORDRAG VAN BEVOEGDHEDE
Ondanks enige bepalings van die Grondwet strydig hiermee, mag enige lid deur ‘n volmagprokurasie, behoorlik uitgereik en deur die Sekretaris geliasseer, ‘n ander persoon volmag gee om namens hom geboortekennisgewings, oordragsertifikate, dekkingsertifikate, opgawes of verslae of enige ander dokumente met betrekking tot die administrasie van ‘n geregistreerde Nooitgedachtperdestoetery te onderteken, en enige sodanige handtekening deur so ‘n ten volle gemagtigde persoon sal deur die Genootskap as net so geldig en bindend aanvaar word asof dit die lid se eie handtekening is, op voorwaarde dat niks wat hierin vervat is, so ‘n ten volle gemagtigde persoon daartoe in staat te stel om op enige moontlike manier deel te neem aan die nominasies van of die stemming vir enige Raadslid of die stemming oor enige aangeleentheid waarvoor sy prinsipaal stemreg het, of om enige vergadering namens sy prinsipaal by te woon nie.
BYLAE A
GENOOTSKAPGELDE
Jaarliks vasgestel met meederheidsstem tydens AJV
R
1. INTREEGELD (eenmalig) | 500.00 |
2. LEDEGELDa) Telerslede b) Lewenslede (eenmalige bedrag)c) Junior leded) Nie-telerslede en gewone lede | 1 000.0010 000.00200.00200.00 |
3. PER CAPITA * a) Binnelandse telers b) Buitelandse telers | 25.00Raadsbesluit |
4. GEBOORTEKENNISGEWINGS | 25.00 |
5. KEURINGS a) Hingste herkeuring vir meriete b) Merries herkeuring vir meriete | 400.00200.00 |
6. REISKOSTES (per km vir keurings) a) Keurders b) Opvolg keurings (betaalbaar deur eienaar) | 3.50/km3.50/km |
7. GEBOORTEKENNISGEWINGBOEK | Raadsbesluit |
8. INSPEKSIEBOEK. | Raadsbesluit |
9. DEKKINGSBOEK | Raadsbesluit |
10. LAAT GEBOORTEKENNISGEWINGBOETE (na 7 maande) | 50.00 |
11. DEPOSITO INGEVAL VAN APPèL (herkeuring) | 200.00 |
12. Oordragte, kansellasies, duplikaat sertifikate | 25.00 |
13. Herinstelling van perde | 400.00 |
14. Keuring van perde van nie-telerslede a) Keuring per perd b) Km tarief | 500.003.50 |
* Per Capita fondse word aangewend om keurdersreiskostes te verhaal. Jaarlikse keuringstoere sal gratis gedoen word, terwyl ad hoc keurings buite hierdie toere deur die eienaar betaalbaar is.
BYLAE B
STANDAARD VAN VOORTREFLIKHEID
ALGEMENE VOORKOMS EN TEMPERAMENT
Die Nooitgedachter het ‘n goeie balans tussen voorkwart, middelstuk en agterkwart, waarvan elk ‘n derde deel vorm. ‘n Vierkantige stand van bene is kenmerkend, met ‘n sterk beenstruktuur.
Hoë kwaliteit, word deur ‘n adelike houding, nie-vlesige kop, (fyn) soepel vel en ‘n blink haarkleed uitgebeeld. Die perd het ‘n wakker, intelligente houding met ‘n inherente nuuskierigheid wat ‘n aanvoeling vir en aangetrokkenheid tot die mens weerspieël. Die hoogte van perde wissel van 138cm. tot 168 cm. of 13.2 tot 16.2 hande. Die variasie kom voor omdat daar ‘n definitiewe geneigdheid tot ponies sowel as perde in die ras is, asook weens seleksie metodes onder wisselende ekologieë.
Hoewe van goeie kwaliteit is so hard dat dit hoefbeslag selde nodig maak. Die gewrigte is inherent sterk. Die perde is in staat om ‘n volwasse ruiter daagliks oor lang afstande oor gebroke terrein te dra. Gemaklike gange soos stap, gangloop, draf, trippel en galop is kenmerkend. Dit maak deelname aan skoue, plesierritte, dressuurkompetisies en sport items moontlik.
‘n Vulpersentasie van 90% kan sonder byvoeding op die natuurlike veld gehandhaaf word. Die merries toon ook ‘n goeie uierontwikkeling en moedereienskappe. Puberteit, soos hoogte, wissel volgens voedingsomstandighede.
Die vel is donker gepigmenteer; perde is enige kleur behalwe bont. Die perde se gewig wissel volgens grootte, dog die balans en kenmerke in bouvorm bly onveranderd.
KOP
‘n Droë nie-vlesige kop met ‘n sterk kakebeen en ‘n oop lugtoevoer na die keel is kenmerkend. In hingste is ‘n vorstelike en adelik wakker houding opsigtelik. Van voor gesien is die kop kort van kroon tot bek, met ‘n breë plat voorkop en kort, skerp gepunte ore wat reg geplaas en beweeglik is. In profiel moet die neusgedeelte reguit of effe konkaaf, die kaak diep en goed gewelf en die kakebeenlyn reguit wees. Die neusgate moet groot, goed omlyn en wyd geplaas wees en beweeglik wees. Die oogbanke moet nie te swaar en prominent wees nie. Die bo- en ondertande moet goed op mekaar pas. ‘n Droë nie-vlesige kop en ‘n soepel, fyn vel en duidelike beenknoppe en waarneembare bloedvate word verkies.
Oë
Die oë moet groot en oop en wyd geplaas wees. Die oogbanke moet nie te swaar en prominent wees nie. ‘n Intelligente, waarnemende blink in die oë word nagestreef. Wilde rollende oë met ‘n wit flikkering is nie kenmerkend van die ras nie. Vroulikheid in voorkoms en oë word by die merries se koppe aangetref.
NEK EN AANHEGTING
Die nek moet matig lank en goed gespierd wees en moet netjies aansluit by die kop, bors en skouer. Die houding van die nek moet só wees dat die kop hoog gedra word sonder dat die perd die indruk skep dat hy in die lug opkyk. Die ideaal word verkry deur ‘n nek wat “hoog uit die skouer loop”. Maanhare moet dik wees.
KAMBENE EN SKOUERAANHEGTING
‘n Diep skouer met lang bladbeen is uiters wenslik want dit verleen aan die ryperd ‘n lang tree. ‘n Lyn vanaf die skouerknop tot die boonste rand van die kambeen behoort ‘n hoek van ongeveer 50 grade met die horison te vorm. Die skouer moet sterk gespierd wees, maar nie ‘n masiewe indruk skep nie en die bokante van die twee skouerblaaie -scapulae- behoort styf teen die kambeen te pas om ‘n droë, skerp skof te vorm. Die skof behoort so gevorm en na agter geplaas te wees dat die saal natuurlikerwys daaragter kan pas en nie na vore skuif tydens beweging sodat die perd deur die buikgord agter die elmboë geskaaf word nie.
SKOUER- EN KOOTHOEKE EN LENGTE
Die skouer en die kote moet min of meer dieselfde helling vertoon en die kote moet matig lank wees.
SPRONG VAN RIBBES
Die voorribbe moet lank wees ten einde ‘n diep borskas en ruimte vir die hart en longe te voorsien, maar nie te sterk gewelf wees by die ryperd nie. Die agterribbe moet goed gewelf en lank wees om penskapasiteit te verskaf. Die flank moet diep en vol wees en die spasie tussen die laaste rib en heup behoort in verhouding tot die res van die liggaam, kort gekoppel te wees – ongeveer vier vinger breedtes.
RUG-HOLTE NA KAMBENE TOT HEUPE
Die toplyn van die middelstuk word gevorm deur die rug en die lende. Dit moet min of meer reguit na agter loop en glad by die kruis aansluit. Daar moet gediskrimineer word teen ‘n holrug, d.w.s. ‘n insinking agter die skof, asook teen kurperlende. Die toplyn moet relatief kort wees tot die onderlyn. Die ideaal is dat die perd ‘n kort gespierde lende moet vertoon, maar oor “baie grond moet staan”.
KRUIS -hoek, lengte en breedte- EN BOUD
Die kruis moet relatief lank wees vanaf die heupknop tot by die sitbeen gemeet. Van agter gesien moet dit breed tussen die draaibene wees, maar die heupe moet nie uitstaan nie en die kruis kan effe rond vertoon. Van die kant gesien behoort die kruis ‘n ligte helling na agter te hê, maar die stert moet hoog aansluit. ‘n Te plat kruis, van agter gesien, of ‘n te sterk hangkruis, van die kant gesien, is ongewens. Van agter gesien behoort die agterkwart, boude en bodye vol en gespierd te vertoon. Die skenkel moet sterk wees.
VOORARM-LENGTE EN HAK PLASING (VAN BENE) EN BENE SE STAND
Die afstand van die elmboog na die knieë by die voorbene, moet langer wees as dié van die knieë na die kootgewrig. Die voorbene moet wyd genoeg uitmekaar geplaas word om vrylik te kan beweeg, maar nie so wyd soos by trekperde nie. Die perde moet van voor gesien, vierkant op sy voorbene staan m.a.w. die voorbene moet loodreg en ewewydig staan. ‘n Loodlyn vanaf die skouerknop behoort deur die middel van die voorknieë, die pypbeen, die kootgewrig en die hoef loop. Van die kant gesien moet die been vertikaal staan. ‘n Loodlyn van die middel van die voorknieë en die middel van die kootgewrig moet die grond net agter die hoef raak. Die voorarm moet lank en gespierd wees, die voorknieë diep, breed en plat, die pypbeen kort, plat en droog met die spierpese duidelik sigbaar. Die kootgewrigte moet relatief groot, duidelik omlyn en nie vlesig wees nie. Die kote moet matig lank wees en min of meer dieselfde helling as die skouer vertoon. Daar moet teen oormatige kootbeharing gediskrimineer word. Die agterbene moet, van agter gesien, ewewydig en regaf staan met die punt van die spronggewrig, die agterkant van die kootgewrig, en die agterkant van die hoef (hiele) loodreg onder die sitbeen. Van die kant gesien, moet die stand van die agterbeen, so wees dat ‘n loodlyn vanaf die sitbene van net agter die spronggewrig, die pypbeen en die kootgewrig verbyhang. Die agterste kote kan meer regop staan as die voorste kote. Hakskeen moet breed en plat wees.
HOEWE EN BEENSTRUKTUUR
Die voorkant van die hoef moet min of meer dieselfde helling as die koot hê. Van onder gesien is die agterhoewe meer ovaalvormig as die voorhoewe. Die hoef is geneig om hoog en smal te wees. Betreklik hoë hiele is ‘n voordeel vir beweging oor bergagtige terrein. Die hoefwande moet dig, hard en taai wees sonder barste of krake. Die hoefrand moet ‘n duidelike ronding ton en daar moet gewaak word teen saamgetrekte hiele. Die been moet ‘n skoon en sterk indruk laat. Die gewrigte van die agterbene sowel as die voorbene moet plat en sterk voorkom.
Met die beoordeling/keuring van Nooitgedachtperde moet daar veral op die volgende ongewenste eienskappe en redes vir diskwalifikasie gelet word.
DISKWALIFIKASIES
Ongewenste temperament: Perde wat duidelik menssku en temperamenteel is.
Oorerflike gebreke en afwykings soos ‘n kort onderbek, holrug, sterk kurperlende, sprongewrigte (hakke) wat na buite draai, Haashak (curb), swak bene, gewrigte of hoewe.
Kambeenhoogte van minder 138cm of bo 163cm.
Bont, (piepald, skewbald) en albinoperde (geen pigment).
Klophings.
ONGEWENSTE EIENSKAPPE
Bouvormfoute wat te vêr van die ideaal afwyk soos: ‘n growwe, effens vlesige kop; klein oë; swaar, dik nek; vlak, regop skouer; neiging tot holrug; matige kurperlende; kalf knieë, hoewe na binne of buite gedraai, koeihakke, sekelhakke, ‘n geringe uitbuig van die hakke van agter gesien; regop kote; klein kote.
Geringe kleurafwykings soos ‘n te groot bles of besondere hoë wit bene.
Perde wat nie vry beweeg nie.
Bylae D
Handleiding vir keurders en eienaars by die keuring van perde
Sien ook Verordening 17 van die Grondwet. Bylae B word gebruik met alle keurings.
Die Uitvoerende Komitee sal keurders opdrag gee om Nooitgedachtperde te keur.
Aansoek vir keuring van Nooitgedachtperde moet by die Sekretaris op ‘n goedgekeurde vorm gedoen word. Die aansoek moet die name en die geboortesertifikaatnommers van die perde waarvoor aansoek vir keuring gedoen word vermeld en ook van ‘n volledige beskrywing van die pad wat na die plaas gevolg moet word, vergesel wees. Die Sekretaris hou ‘n lys van alle aansoeke en versoek dan ‘n keurder om die keuring te doen. Die keurder sal met die eienaar reël oor ‘n geskikte datum om die keuring te doen of die keurder mag die Sekretaris vra om die reëlings te tref. Dit word gehoop om elke teler jaarliks te besoek. Spesiale keurings buiten hierdie jaarlikse besoek sal net met hoë uitsondering gedoen word en met goedkeuring van die Uitvoerende Komitee en op voorwaarde dat die aansoeker die reis- en ander kostes van die keurder betaal en indien die keurder beskikbaar is. Die eienaar moet die vasgestelde fooie vir die keuring en die aantekening- of registrasiefooie vir elke goedgekeurde perd betaal, asook reiskostes (sien Bylae A). Die eienaar sal ‘n rekening daarvoor ontvang.
Die eienaar moet toesien dat sy perde in goeie liggaamlike kondisie is vir keuring en dat hulle hanteerbaar is. Hy moet sorg dat die perde byderhand is as die keurder op die plaas aankom. Hy, of sy verteenwoordiger wat die perde goed ken, moet beskikbaar wees om die perde te hanteer en aan die keurder uit te wys. Alle perde wat vir keuring aangebied word, moet deur die eienaar met die stoet se kenletter(s) en ‘n volgnommer gebrand of getatoeëer wees (verwys Verordening 2). Die eienaar moet sorg vir vuurmaakhout of kole om die brandysters mee warm te maak.
Geen Nooitgedachtperd sal geregistreer word indien dit nie oor ‘n geboortesertifikaat beskik en voordat dit deur ‘n keurder van die Genootskap goedgekeur is nie.
Perde wat in die Hulpstamboek A & B en die Volgeregistreerde Stamboek opgeneem kan word, moet soos volg gekeur word: Merries: tussen die ouderdomme van twaalf (12) en ses-en-dertig (36) maande gekeur word en hingste tussen die ouderdomme van ses-en-dertig 936) en sestig (60) maande. Elke Nooitgedachtperd waarvan beide ouers geregistreer is of was, en wat vir registrasie goedgekeur is, sal met die rasbrandmerk op die linkerboarm deur die keurder gebrand word.
Die keurder moet toesien dat die Basismerries wat hy goedgekeur het in sy teenwoordigheid deur die eienaar met sy kenletters en ‘n volgnommer gebrand of getatoeëer word. Basismerries kan op enige ouderdom gekeur word en word nie met die rasbrandmerk gebrand nie.
Die keurder sal die rasbrandmerk saamneem.
Indien ‘n keurder om een of ander rede nie ‘n perd voor die voorgeskrewe maksimum ouderdom kan keur nie, mag die keuring nog op ‘n later stadium gedoen word, mits die eienaar betyds aansoek gedoen het vir keuring, met dien verstande dat die Raad goedkeuring aan die keurderskomittee mag verleen om laat keurings toe te laat. Die keurder het die mag om ‘n perd na eie oordeel oor te hou vir keuring tydens die volgende besoek, ongeag die maksimum ouderdom waarna hierbo verwys word.
Slegs perde wat voldoen aan die rasstandaarde (Bylae B) kan vir keuring in aanmerking kom. Keurders moet veral aandag aan ‘n perd se temperament gee. Geen perd wat nie aan ‘n halter of sonder moeite in ‘n drukgang gehanteer kan word mag gekeur word nie.
Die keurder sal elke perd wat vir keuring aangebied word en waarvan die geboortesertifikaat aan hom voorgelê word, goed- of afkeur. Hy moet homself vergewis van die kleur, identifikasie, ouderdom, ens. van die perd wat vir keuring aangebied word. Enige verskil of teenstrydigheid kan ‘n perd vir inskrywing in die Stamboek diskwalifiseer. Kleurveranderings kom soms gedurende hul lewe by Nooitgedachtperde voor, daarom moet die keurder enige sodanige kleurveranderig op die sertifikaat aanteken, parafeer en dateer. Verder moet hy tot eie bevrediging seker maak dat die perd in alle opsigte voldoen aan die rasstandaarde soos van tyd tot tyd deur die Raad neergelê is (Bylae B). Die keurder moet sy reiskoste saam met die vorms by die kantoor inhandig.
Die geboortesertifikate van perde wat goedgekeur word, moet deur die keurder op die plek daarvoor bedoel, geteken word en die datum van goedkeuring daarop ingevul word. Die keurder moet die betrokke sertifikate tesame met ‘n keuringsvorms (Bylae B) en keuringslys aan die Sekretaris stuur vir kansellasie van die perde se geboortesertifikate en aansoek vir die registrasiesertifikate. Sertifikate van alle ongekeurde perde bo drie (3) jaar vir merries of vyf (5) jaar vir hingste en van perde wat deur die keurder afgekeur is of wat dood is, moet aan die keurder oorhandig word. Die keurder moet die betrokke sertifikate aan die Sekretaris stuur vir kansellasie. Die keurder moet binne een maand na die keuring die voltooide vorms van elke perd wat hy gekeur het (goedgekeur en afgekeur) aan die Sekretaris stuur.
Die eienaar sal, indien die keurder dit verlang, al sy Nooitgedachtperde aan die keurder toon en hom in alle opsigte behulpsaam wees in die uitvoering van sy pligte. Dit word ook van die keurder verwag om tydens ‘n keuring al die Nooitgedachtperde van ‘n teler te sien en indien hy dit nodig ag ‘n verslag oor die betrokke stoet aan die Raad voor te lê.
Die keurders in diens van die Genootskap mag in opdrag van die Raad van tyd tot tyd sonder waarskuwing ‘n algemene keuring van enige stoetery doen.
Die keurders mag nie instruksies of kommissies van telers of nie-lede aanvaar om die koop en verkoop van Nooitgedachtperde te bewerkstellig nie.
‘n Teler mag nie as keurder vir sy eie perde optree nie.
Dit word van keurders verwag om te alle tye as ambassadeurs vir die Nooitgedachtperderas op te tree en om telers sover moontlik met raad en advies te bedien.