Die  wortels van die Nooitgedachter

Daar is min diere rasse wat ‘n gedokumenteerde geskiedenis soos die Nooitgedachter het.  Hierdie betroubare dokumenteering het ons te danke aan die destydse Landbou Departement wat hierdie projek, wat op die Nooitgedachter uitgeloop het, gedryf het. 

Aan die einde van 1947 lei ‘n memorandum van mnr. A.W. Lategan daartoe dat die Sekretaris van Landbou ʼn komitee aangestel om  ʼn opname te maak van die soorte, tipes en rasse van inheemse plaasdiere in die Unie.  Op 27 Desember 1951 is besluit dat ʼn komitee bestaande uit prof F.N. Bonsma, mnr Lategan en Prof. Bisschop, sal probeer om twee Basoetoponie hingste en minstens ses merries van mnr. J. A. N. Cloete van Hasiesfontein, Molteno, K.P., te koop. Die vertrekpunt was dat daar in Basoetoeland deur die loop van die 19d eeu, deur natuurlike seleksie,  ʼn unieke perde-tipe ontwikkel het, wat  hier te lande en oorsee bekend was as die Basoetoepoon.  Perde van hierdie “ras” was befaamd vir hulle gehardheid, vasvoetigheid op bergagtige terrein, gemaklike gange, en vir hulle besonder goeie temperament.

Die Departement het daarin kon slaag om sewe perde aan te koop, ʼn hings en ses merries. Twee van die  merries is voor die aanvang van die projek dood – daar bly gevolglik vyf Cloete perde oor naamlik die hings – Vonk 2 en 5 merries – Patrys 1, Patrys 2, Kwartel 2 en Steenbok.  Die Departement het met ‘n delemma gesit:  Al vyf hierdie diere was nouverwant deur hulle verwantskap aan Ou Patrys en Punch. Daar is tog besluit om met die projek voort te gaan.  Die perde is na die proefplaas Nooitgedacht, net buite Ermelo.   Dr. Nien Barrie, die plaaslike veearts en beheerbeampte van Nooitgedacht, en mnr. Bosman, landboutegnikus, was verantwoordelik vir die uitvoer van die projek. Op 19 Februarie 1952 kom die perde op Nooitgedacht aan,die volgende dag vul Patrys 1 van Cloete se hings Moskou.  Hierdie hingsie, Moskou 2, word later toe die tweede stoethings.  Sy temperament was nie goed nie en hy het besliste beenfoute gehad, hy is gevolglik min gebruik.

Dr. Barrie het die oorspronklike seleksiekomitee versoek om weer  teelmateriaal in die hande te kry.  Die komitee besluit uiteindelik om nog vyf perde - Violet, Miesies, Nonna Ounooi en Bloubok van ‘n ene mnr. Matewis Willemse van die plaas Giddies Hope, buite Memel, as teelmateriaal te gebruik.  Die oogmerk was om uiteindelik by 75% Cloetebloed en 25% Willemsebloed uit te kom.  Van hierdie merries was reeds onderling verwant, maar hoogswaarskynlik glad  nie aan die Cloete-merries nie.  Op 21 Desember 1953 kom hierdie merries op Nooitgedacht aan en word dadelik by Vonk 2 gesit vir dekking.  

Tussen dr. Barry, prof. Bisschop en dr. Bonsma is besluit om van die Cloete-merries met geskikte Arabier hingste te laat dek.  Van 1955 tot met 1958 is hulle na:-

  1. Die hings “Rommel”:-  ʼn Arabier, van mnr. R. P. Botha van Viljoenskroon, O.V.S. en 
  2. Die hings “Defense”:-  ʼn seun van ʼn Arabierhings, deur Gen. Louis Botha ingevoer en behorende aan mnr. P.J. Du Preez in die Ermelo distrik. Hy word in 1958 teen £100 vir die stoet aangekoop.

Dr. Barry het besef dat hierdie Arabier bloed die tipe-egtheid van die kudde in die rigting van ʼn Arabiertipe sou beïnvloed. Hy was, so ver vasgestel kan word, die eerste persoon wat die moontlikheid geopper het om die projek te herbenoem van “Basoeto poon projek”  na “Nooitgedacht ryperd projek”.

Daar was nog drie pogings  om  perde in te bring met die oog op die vermindering van inteelt.  Met haar aankoms in Desember 1953 op Nooitgedacht vul die merrie Violet van  ʼn “boerperd” hings van mnr. Willemse.  Hierdie vul word Louise genoem, en word die merrie wat die meeste nageslag (twaalf), gelewer het wat in die stoet opgeneem is.

Die ander twee pogings om onverwante bloed in te bring, was minder geslaagd gewees. Die dood van dr. G.J. van der Watt, van die plaas Welgelegen in die Ermelo-distrik, op 28 April 1968, laat die tweede pooging voortydig tot ‘n einde kom toe sy gesin besluit om die samewerkingsooreenkoms tussen hom en Nooitgedacht te beëindig. 

Poging drie met  ʼn sogenaamde “Basoeto-hings”, Vrystaat, in Julie 1966 misluk aangesien geen van sy nageslag is in die stoet opgeneem nie.

Danksy die feit dat die gebruik dat die oorspronklike merries se nageslag name gekry het wat met dieselfde letter begin, is dit vandag moontlik om te sê watter van hierdie merries se gene deel vorm van die ras se huidige genepoel .  Die Stammoeders en -vaders wat op Nooitgedacht was:

Merries Hingste
Patrys  - Cloete Vonk2
Kwartel- Cloete Rommel (Arabier)
Steenbok- Cloete Defence (deelsgetelde Arabier)
Violet - Willemse Nien
Miesies - Willemse Nkozi
Nonna - Willemse Mac
Ounooi – Willemse Predikant
Bloubok- Willemse Vonk3
Louise- Willemse (Sy was  die dogter van Violet by ʼn boerperd hings). Kobus.